On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

‘The best is to kill the Boer’ – Vrystaatse munisipale direkteur

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:39 Fri, 23 Aug 2024

‘The best is to kill the Boer’ – Vrystaatse munisipale direkteur | News Article
Disebo Motaung. Foto: Facebook

“Uitlatings soos hierdie skep onnodige verdeeldheid in ’n samelewing wat eintlik net vorentoe wil beweeg.”

’n Burgerregteorganisasie eis die afdanking van ’n Vrystaatse munisipale direkteur nadat ’n lasterlike WhatsApp-boodskap aan die lig gekom het.

AfriForum eis dat Disebo Motaung, Nketoana se direkteur van korporatiewe dienste, afgedank word nadat sy in reaksie op ’n mediaberig gesê het: “The best is to kill the Boer.”

Motaung het die uitlating gemaak in ’n WhatsApp-groep vir senior bestuurders van die munisipaliteit.

Die berig Maandag (19/8) in die Johannesburgse dagblad The Citizen handel oor mense se regte wanneer hulle ontvoer word, en die ontvoerders hul bank-app-besonderhede of die PIN’s van hul bankkaarte eis en dan hul bankrekeninge leegmaak.

Disebo Motaung. Foto: Facebook

Nketoana-munisipaliteit sluit die dorpe Reitz, Lindley en Petrus Steyn in die Oos-Vrystaat in.

AfriForum veroordeel ten sterkste die uitlating en eis dat die betrokke direkteur dadelik uit haar pos onthef word, sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid. Die beweerde opmerking deur Motaung is “rassisties en moedig geweld aan”.

Vrystaat Landbou veroordeel en betreur ook die uitlating, sê Francois Wilken, president. Sulke uitlatings, veral deur staatsamptenare, “kan nie geduld word nie en is betreurenswaardig”.

‘Uitlatings soos hierdie skep onnodige verdeeltheid’

Hy sê Vrystaat Landbou het Donderdag (22/8) met Jabu Mbalula LUR vir gemeenskapsveiligheid, asook Elzabe Rockman, LUR vir Landbou, beraadslaag waar samewerking tussen hulle en die owerheid bepleit is.

“Uitlatings soos hierdie skep onnodige verdeeldheid in ’n samelewing wat eintlik net vorentoe wil beweeg,” meen Wilken.

Broodryk sê die whatsapp [sic] word afgesluit met ’n emotikon van ’n hand met gekruisde vingers.

Skermgreep van die boodskap. Foto verskaf

“Dié simbool word algemeen gebruik om hoop op ’n positiewe uitkoms aan te dui,” sê Broodryk. Dis “uiters kommerwekkend” en “moedig verdeeldheid en haat aan en het die potensiaal om gewelddadige optrede” aan te wakker.

“Daar word van openbare amptenare verwag om deur hul voorbeeld te lei en vrede en eenheid in hul gemeenskappe te bevorder. Wanneer ’n leier egter vir geweld pleit, stel dit lewens in gevaar.”

Volgens Broodryk mag die erns van stelling soos dié nie onderskat word nie. “In ’n land waar gewelddadige aanvalle op boere ’n harde werklikheid is, kan sulke stellings nie bloot aanvaar word nie.”

‘Die omvang en erns van plaasaanvalle bly steeds ’n reuseprobleem’

Pienaar sê landbou is die lewensaar van die Vrystaat. “Ons moet gereeld hoor hoe daar van die sektor verwag word om meer werk te skep en die platteland op te bou.

“Hoe kan daar egter van ons (boere) verwag word om dié taak te vervul wanneer iemand in die rol van samewerkende dienste sulke uitlatings maak?”

Die omvang en erns van plaasaanvalle bly steeds ’n reuseprobleem, meen Broodryk. AfriForum se jongste verslag oor plaasaanvalle en -moorde toon dat 49 plaasmoorde (0,94 moorde per week) gedurende 2023 plaasgevind het in 296 aanvalle (of 5,7 plaasaanvalle per week).

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.