On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Heilbron weer leefbaar danksy noodwaterpunt, minder vullis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:05 Thu, 15 Aug 2024

Heilbron weer leefbaar danksy noodwaterpunt, minder vullis | News Article
AfriForum se nuwe noowaterpunt op Heilbron. Foto verskaf

“Hoewel die watertoevoer verbeter het, is die nuwe noodwaterpunt opgerig sou dit weer nodig wees vir inwoners om daarvan gebruik te maak.”

Vrywilligers het 13 t tuin- en huishoudelike vullis bymekaargemaak tydens ’n maand lange opruimingspoging op Heilbron in die Noordoos-Vrystaat.

Midde-in die veelvuldige watertoevoerprobleme waarmee Heilbronners te kampe het, het die plaaslike AfriForum-tak die afgelope maand dié dorp meer leefbaar gemaak, sê Alta Pretorius, AfriForum se Mooirivier-distrikskoördineerder.

“Die tak het die gras om die Uniefeesdam netjies gemaak en die stuk veld langs die Riemland-museum getakel waar gereeld vullis onregmatig gestort word. Die tak het ook naby Kerkstraat in ’n oop stuk veld, wat so te sê in ’n vullisterrein omskep is, vullis opgetel en die res van die veld skoongemaak.”

AfriForum maak Heilbron in Junie skoon. Foto verskaf

Volgens Pretorius is dit ’n betreurenswaardig dat die dorp so met vullis bemors word. “In ag genome dat Heilbron se stortingsterrein aan slegs 4% van die wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen en sonder ’n permit bedryf word, is dit egter geen verrassing dat die res van die dorp ook as ’n vullisterrein gebruik word nie.”

Tog, sê sy, is dit belangrik dat die omgewing gerespekteer word sodat elke inwoner en besoeker op die dorp trots kan wees.

Benewens ’n vullisvrye omgewing het die tak ook gesorg dat ’n tweede noodwaterpunt aan inwoners beskikbaar gestel word. “Die nuwe watertenk, met ’n 5 000 L-kapasiteit, is deur Pakworks geborg en by Raubenheimerstraat 89 opgerig,” sê Pretorius, en voeg by die dorp gaan geruime tyd gebuk onder “watervermindering” weens Ngwathe-munisipaliteit se wanbetaling aan Randwater.

In April het AfriForum se Heilbron-tak die eerste noodwaterpun opgerigFoto verskaf

“Hoewel die watertoevoer verbeter het, is die nuwe noodwaterpunt opgerig sou dit weer nodig wees vir inwoners om daarvan gebruik te maak.

“Dit is verblydend dat die watersituasie verbeter, maar AfriForum sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om die veelvuldige waterlekke op die dorp te herstel. Dit is ook belangrik dat inwoners steeds water spaarsaam gebruik, aangesien dit ’n kosbare hulpbron is,” sê Pretorius.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mc/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.