On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

R37,2 miljoen Upington-biblioteek nagenoeg stil

───   HEIDRÈ MALGAS 11:35 Thu, 08 Aug 2024

R37,2 miljoen Upington-biblioteek nagenoeg stil | News Article
Die biblioteekfasiliteit huisves ook tydelik die departement van Arbeid en Indiensneming. Foto verskaf

“Bedryfsure van 08:00 tot 10:00 elke dag veroorsaak groot ontwrigting vir mense wat op die biblioteek staatmaak vir lees, studeer, en gratis toegang tot die internet vir navorsing en werksoekdoeleindes.”

Die funksionaliteit van die moderne streeksbiblioteek, wat teen ’n koste van R37,2 miljoen gebou is en op Erfenisdag 2019 deur President Cyril Ramaphosa in Upington geopen is, het bykans tot stilstand gekom.

“Bedryfsure van 08:00 tot 10:00 elke dag veroorsaak groot ontwrigting vir mense wat op die biblioteek staatmaak vir lees, studeer, en gratis toegang tot die internet vir navorsing en werksoekdoeleindes,” sê Henk Opperman, DA-raadslid en sweep vir die Dawid Kruiper-munisipaliteit.

Die DA het versoek dat die provinsiale departemente van Sport, Kuns en Kultuur, en van Paaie en Openbare Werke dringend die uitdagings rakende die gedeeltelike sluiting van die Sandile Present Biblioteek in Upington aanspreek.

Die hele biblioteekfasiliteit, insluitend die arbeidskantoor, was vir ’n volle week aan die einde van Julie gesluit. Foto verskaf

“Die gedeeltelike sluiting spruit voort uit probleme met ’n tekort aan sanitasiefasiliteite en basiese skoonmaakmiddels, insluitend toiletpapier. Die lugversorging is ook gebreek.”

Die biblioteekfasiliteit huisves ook tydelik die departement van Arbeid en Indiensneming sedert Februarie vanjaar, weens konstruksiewerk by Arbeid se kantoor in Upington.

Opperman meld dat die hele biblioteekfasiliteit, insluitend die arbeidskantoor, vir ’n volle week aan die einde van Julie gesluit was. Die DA is bekommerd oor die provinsiale regering se onvermoë om die onderliggende probleme, wat dienste só wyd belemmer, effektief aan te spreek.

‘Dawid Kruiper-burgersentrum dalk weer in gebruik geneem’

Die DA het die saak verwys na die LUR van Sport, Kuns en Kultuur, Nontobeko Vilakazi, en die LUR van Paaie en Openbare Werke, vir samewerking rondom ’n dringende ingryping, asook na die onderskeie portefeuljekomiteevoorsitters, om toesig oor hierdie saak te verseker.

Verder het nog ’n fasiliteit in Upington aandag gekry – die Dawid Kruiper Munisipaliteit se ou burgersentrum is vir jare nie gebruik nie. Die DA versamel nou handtekeninge om dit weer in gebruik te neem.

Die terrein word gebruik deur haweloses en dwelmgebruikers. Foto: Jaydean Jansen

“Die sentrum, geleë in Progress, was eens die grootste munisipale diensleweringsplek in Dawid Kruiper, wat die breër Upington-gemeenskap bedien het. Dit het twaalf jaar gelede gesluit, wat aansienlike ontwrigtings in dienslewering veroorsaak het, tot groot ongerief van inwoners wat vroeër hul rekeninge kon betaal en elektrisiteit kon koop by die fasiliteit,” sê Albie van Zyl, DA-raadslid.

“Inwoners moes sedertdien na die munisipale gebou in die dorp gaan, wat lang toue veroorsaak het terwyl die burgersentrum ongebruik staan. Die infrastruktuur van die gebou is gevandaliseer, die lugversorgers is gesteel, sowel as die twee klein toegangshekke en plaveistene. Rekenaar- en ander toerusting het ook verdwyn.”

‘Die gebou word stukkie vir stukkie weggedra’

“Die terrein word gebruik deur haweloses en dwelmgebruikers, terwyl die gebou aanhou vandalisme trotseer en stukkie vir stukkie weggedra word.”

Van Zyl sê die DA het gereeld die sluiting van die fasiliteit ondersoek by die Munisipale Bestuurder, die Hoof Finansiële Beampte en in komitees. Niemand kon ’n antwoord gee oor waarom die fasiliteit gesluit is nie, en ook nie ’n geldige rede verskaf oor waarom die gebou, wat oor water-, sanitasie- en elektrisiteitsverbindings beskik, nie heropen kan word nie.

“Dit is sinneloos dat ’n toesighouer sy volledige werksdag moet spandeer om ’n leë gebou te bewaak wat tot baie beter gebruik aangewend kan word. Dit is ook nalatig om ’n munisipale bate, wat waarde tot die mense van Upington kan toevoeg, te laat verval.”

OFM Nuus/Heidre Malgas cg/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.