On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Olebogeng
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Hand-voet-en-mondsiekte: Oorsaak, simptome en behandeling

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:32 Wed, 24 Jul 2024

Hand-voet-en-mondsiekte: Oorsaak, simptome en behandeling | News Article
Hand-voet-en-mondsiekte veroorsaak blase op hande. Foto: iStock

“Die virus versprei deur kontak met die respiratoriese afskeidings, speeksel of ontlasting van ’n besmette persoon en kom veral voor in dagsorgsentrums en kleuterskole.”

Hand-voet-en-mondsiekte (HVMS) steek weer kop uit in Sentraal-Suid-Afrika, maar wat veroorsaak dit en hoe word dit behandel?

Dis ’n algemene virale siekte wat hoofsaaklik jong kinders raak, hoewel volwassenes ook die virus kan opdoen, gewoonlik sonder simptome. HVMD is hoogs aansteeklik en kan vinnig in kindersorgomgewings versprei.

Kinders moet gereeld hul hande was. Foto: Wikipedia

Volgens Better Health Channel word HVMD veroorsaak deur ’n infeksie met die Coxsackie-virus, ’n tipe RNA-virus wat aan die Picornaviridae-familie en die Enterovirus-genus behoort.

Die virus versprei deur kontak met die respiratoriese afskeidings, speeksel of ontlasting van ’n besmette person en kom veral voor in dagsorgsentrums en kleuterskole. Dit kan ook versprei word deur kontak met besmette oppervlakke of deur druppeltjies in die lug wanneer ’n aangetaste persoon hoes of nies. Die vog in die blasies dra ook die virus.

Die inkubasietydperk vir HVMS, of die tyd vanaf infeksie tot die aanvang van simptome, is gewoonlik tussen drie tot vyf dae, berig Kids Health.

Dit vorm blasies om die kind se mond. Foto: Wikipedia

Simptome 

  • Koors 
  • Seer keel 
  • Moegheid en lusteloosheid 
  • Pynlike blase in die mond, op die agterkant van die keel en op die tong 
  • Swak eetlus as gevolg van blase in die mond; en
  • Uitslag aan die handpalms, voetsole en soms op die sitvlak en liggaam.

Mediclinic Bloemfontein het vroeër aan OFM Nuus gesê dis belangrik om daarop te let dat 90% van HVMD-gevalle asimptomaties is wat beteken dat hulle nie ernstige simptome toon nie.

HVMS kom twee keer meer by seuns as by meisies voor. Foto: Wikipedia

Isolasie en voorkoming 

Volgens Cleveland Clinic moet kinders met HVMS minstens sewe dae isoleer of totdat hul blase opdroog om die verspreiding van die virus te voorkom.

Voorkomende maatreëls

  • Was hande gereeld met seep en water.
  • Maak oppervlaktes skoon met ’n alkohol-gebaseerde reiniger wat minstens 60% etanol bevat vir 60 sekondes.
  • Vermy die gebruik van standaard nat doeke vir virusuitskakeling; en
  • Gebruik slegs waterlose ontsmettingsmiddels en doekies as ’n laaste uitweg.

Komplikasies 

In die meeste gevalle lei HVMS tot ligte simptome en geen langtermyneffekte nie, berig Healthline. “In seldsame gevalle kan dit egter lei tot ernstige komplikasies soos breinontsteking, meningitis en perikarditis (ontsteking van die perikardium).”

Hoewel daar geen spesifieke behandeling vir die virus is nie kan die volgende toegepas word:

  • Gebruik parasetamol (nie aspirien nie) soos aangedui vir koors en enige ongemak.
  • Drink baie vloeistof, maar vermy lemoensap, wat suur is en pyn met mondsere kan veroorsaak.
  • Laat blase natuurlik droog word. Moenie blase oopsteek nie, omdat die vloeistof daarin aansteeklik is.
  • Eet kosse soos jogurt, roomys en sop.
  • Indien ’n blaas bars, smeer antibakteriese salf aan om infeksie te voorkom.

Bronne: Better Health Channel, Kids Health, Cleveland Clinic, Healthline, Mediclinic Bloemfontein 

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.