On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Vier beseer in brand by Bloemfontein

───   15:59 Thu, 11 Jul 2024

Vier beseer in brand by Bloemfontein | News Article
Danksy die vinnige reaksie is die brand nou onder bedwang gebring. Foto: Kekeletso Mosebetsi.

“Iemand het na bewering rommel aan die brand gesteek. As gevolg van die sterk wind het die rommel na ’n huis aangewaai en die lapa aan die brand gesteek.”

Twee Bloemfonteinse brandweermanne en twee vrywilligers is in ’n brand by Spitskop, Langenhovenpark, beseer. ER24 het hulle op die toneel behandel. Een brandweerman is weens hitte-uitputting in die hospitaal opgeneem.

’n Huis het afgebrand nadat die sterk wind glo vlamme van brandende rommel aangewaai het. 

‘Vlamme het na bewering oor die pad gespring’

“Iemand het na bewering rommel aan die brand gesteek. As gevolg van die sterk wind het die rommel na ’n huis aangewaai en die lapa aan die brand gesteek. Die lapa was teenaan die huis. 

“Die huis het afgebrand, maar baie van die inhoud kon gered word,” sê Braam van Zyl van die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens. Die vlamme het na bewering oor die pad gespring en na Langenhovenpark beweeg.

Danksy die vinnige reaksie van inwoners, gemeenskapsorganisasies, vrywilligers en nooddienspersoneel is die brand nou onder bedwang gebring. Die buurtwag en twee spanne van Working on Fire het almal ook gehelp om die brande te blus.

Van Zyl noem dat dit die twaalfde huis is wat dié week net in die Mangaung-gebied gebrand het. Almal is steenhuise.


Op pad terug van dié toneel het OFM Nuus se joernaliste ook ’n brand in Nelson Mandela-rylaan, in die oop veld langs iTec, waargeneem. Daar was baie rook, met swak sigbaarheid op die pad. Motoriste is aangeraai om spoed te verminder en versigtig te wees.

Sondag (7/7) is die Nasionale Distrikshospitaal in die stad ontruim, nadat ’n brand ook by dié hospitaal uitgebreek het. Altesame 83 pasiënte is na verskeie hospitale in Bloemfontein oorgeplaas. 

Daar word vermoed dat ’n sigaret moontlik bome buite die gebou laat vlam vat het. Die brand het omstreeks 15:20 begin en na die eerste en tweede verdieping van die hospitaal versprei.

“Pasiënte en personeel is vinnig ontruim. Niemand is dood of beseer weens die brand nie,” sê Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement van gesondheid.

OFM Nuus/Heidre Malgas en Kekeletso Mosebetsi cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.