On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse prof gevonnis weens verwaarlosing van leeus

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:49 Thu, 24 Apr 2025

Vrystaatse prof gevonnis weens verwaarlosing van leeus | News Article
Hy het nie eens die mees basiese verpligting nagekom om die diere te voer nie. Foto: Facebook

’n Vrystaatse professor is aan dieremishandeling skuldig bevind nadat verskeie uitgehongerde leeus op sy eiendom gevind is.

Prof. Thabo Masihlelo is in die Frankfortse landdroshof skuldig bevind, waar hy gevonnis is tot ’n boete van R50 000 of tien maande gevangenisstraf. Die helfte van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort, op voorwaarde dat hy nie weer dieselfde oortreding begaan nie.

In 2023 het die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) se natuurlewebeskermingseenheid ’n inspeksie gehou op Masihlelo se plaas by Tweeling. Talle leeus is in verskeie stadiums van verhongering gevind, wat bewys het hoe erg hulle verwaarloos is, sê Jacques Peacock, NDBV-woordvoerder. Hy sê die leeus was erg uitgeteer, met sigbare ribbes en heupbene.

“Hoewel Masihlelo beweer het dat hy leeus in aanhouding teel onder die voorwendsel om natuurbewaring in Suid-Afrika te ondersteun, het hy nie eens die mees basiese verpligting nagekom om die diere te voer nie.”


Gevolglik het die NRDBV se beskermingseenheid ’n strafregtelike klag ingedien teen Masihlelo ingevolge die Dierebeskermingswet 71 van 1962.

Peacock sê die mishandeling wat leeus onder Masihlelo se sogenaamde “sorg” gely het, dien as ’n herinnering aan die verontagsaming van dierewelsyn in die gevange leeubedryf. “Hierdie saak versterk die NRDBV se jare lange kommer oor die bedryf se ware motiewe en praktyke.”

Hy sê die NRDBV bly standvastig in sy missie om die sistemiese wreedheid van die handel in gevange leeus die hoof te bied, ’n bedryf vol ongereguleerde teling, onwettige jag, die handel in leeubene en uitbuitende besienswaardighede soos die troetel van welpies.

Een van die verhongerde leeus. Foto: Facebook

“Gevange leeus is dikwels beperk tot beknopte, oorvol kampe met min tot geen skuiling, onvoldoende veeartsenykundige sorg en swak voeding. Baie verduur vuil toestande en chroniese verwaarlosing, ontneem van enige geleentheid om ’n natuurlike, waardige lewe te lei.”

Volgens Douglas Wolhuter, NRDBV-hoofinspekteur en die beskermingseenheid se bestuurder, sou hulle ’n baie swaarder vonnis vir misdaad teen diere verkies het.

“Hierdie suksesvolle skuldigbevinding is ’n duidelike boodskap dat ons geen vorm van dieremishandeling sal duld nie.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.