On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sol Plaatje by MRK aangegee weens stukkende rioolpyp

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:01 Thu, 24 Apr 2025

Sol Plaatje by MRK aangegee weens stukkende rioolpyp | News Article
Klagtes en versoeke om die pyp te herstel het glo op dowe ore geval. Foto verskaf

Die Noord-Kaap se grootste munisipaliteit is by die Menseregtekommissie (MRK) aangegee vir sy versuim om ’n stukkende rioolpyp te herstel.

Al uitweg was om Sol Plaatje in Kimberley te verkla aangesien die onopgeloste kwessie veroorsaak dat ’n stormwaterkanaal in die Floors-woonbuurt deur rioolwater besmet word, sê DA-rdl. George Joseph.

“Die pyp langs die kanaal op Recreation-pad is in Desember verlede jaar tydens ’n munisipale skoonmaakaksie beskadig.”

Hy sê herhaalde klagtes en herstelversoeke van die DA word eenvoudig verontagsaam. “Die klagtes en versoeke om die pyp te herstel het op dowe ore geval.

Was wêreldbekende toevlugsoord vir kleinflaminke

“Die besmette kanaalwater vloei verby die Homevale-watersuiweringsaanleg en vloei direk in die Kamfersdam, wat eens ’n wêreldbekende toevlugsoord vir kleinflaminke was.


“Benewens die skade wat aan die flaminkbevolking aangerig is, hou die situasie ’n direkte gesondheids- en veiligheidsrisiko vir die gemeenskap in,” sê Joseph, en voeg by informele wonings is minder as 5 m van die kanaal af geleë.

Volgens hom raak die rioolbesoedeling ook stroomaf nedersettings, insluitend Mint Village.

Sol Plaatje versuim om sanitasieprobleme te prioritiseer

“Die DA het Sol Plaatje en die departement van samewerkende regering in November verlede jaar by die Groen Skerpioene aangekla nadat gemeenskapslede begin het om emmertoilette in die kanaal leeg te maak, ná die versuim om die beloofde sanitasiedienste en infrastruktuur te lewer,” sê Joseph.

Die probleem is intussen gedeeltelik opgelos danksy volgehoue druk op die munisipaliteit. “Sol Plaatje versuim egter om sanitasieprobleme te prioritiseer. Dit hou ’n ernstige gevaar vir die stad in wat reeds in rioolwater verdrink.

“Ons hoop dat die kommissie aanspreeklikheid sal afdwing en die spoedige herstel van die stukkende rioolinfrastruktuur sal verseker, wat uiteindelik die inwoners van die Kimberley-omgewing sal beskerm.

OFM Nuus het Thabo Mothibi, Sol Plaatje-woordvoerder, om kommentaar genader.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.