On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Mark
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Paartjie van Rustenburg vermoor glo hul seuntjie

───   HEIDRÈ MALGAS 13:57 Fri, 05 Jul 2024

Paartjie van Rustenburg vermoor glo hul seuntjie  | News Article
Die landdroshof in Rustenburg. Foto: Facebook.

“Hy is laas in Julie 2023 deur bure gesien.”

’n Vrou (31) en haar  kêrel (26) sal Maandag (8/7) in die landdroshof in Rustenburg verskyn vir die beweerde moord op hul vierjarige seun.

“Die paartjie is Donderdag, (4/7) in hegtenis geneem nadat ondersoeke aangedui het dat hulle die kleuter verlede jaar glo vermoor het,” sê Amanda Funani, polisiewoordvoerder. 

Sy sê ná die voorval het inwoners van Extension 4 agterdogtig geraak toe hulle nie meer die kind gesien het nie. Hy is laas in Julie 2023 deur bure gesien.

‘Sy het glo beken dat sy en haar kêrel die kind vermoor het’

"Die gemeenskap het die ma begin uitvra wat verskeie stories uitgedink het. Hierdie week het hulle hul raadslid betrek wat die ma genader het. Sy het glo beken dat sy en haar kêrel die kind vermoor en in 'n vlak graf buite Boitekong begrawe het."

Sello Kwena, provinsiale kommissaris, het die voorval veroordeel en die gemeenskap geloof vir hul samewerking met die polisie en dat hulle nie die reg in eie hande geneem het nie.

Hy het speurders opdrag gegee om te verseker dat geregtigheid geskied.

OFM Nuus het voorheen berig oor ’n man van Kestell wat vir die moord op ’n peuter in hegtenis geneem is. Hy sal na verwagting Maandag (10/7) in die landdroshof verskyn.

“Die polisie in Kestell het die verdagte (25) van Tlholong by Kestell Vrydag (7/6) in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy vriendin (21) se seun (2) aangerand en vermoor het,” sê Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder.

‘In die wasbak vol koue water geplaas’

“Die man het glo Woensdag (5/7) omstreeks 20:00 die kind met ’n stok aangerand, geskop en in die wasbak vol koue water geplaas, omdat hy sy doek vuilgemaak het.”

Die man en sy vriendin, wat ook die seun se ma is, het Donderdag (8/7) hom na die kliniek geneem vir mediese behandeling.

Mophiring sê die polisie is na die kliniek ontbied nadat die personeel kneusplekke aan sy lyf opgemerk het. Die seun is kort daarna in die kliniek oorlede.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.