On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Ruda Landman praat oor afleggings ná 40: ‘Daar is hoop’ – VIDEO’S

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:39 Thu, 04 Jul 2024

Ruda Landman praat oor afleggings ná 40: ‘Daar is hoop’ – VIDEO’S | News Article
Foto: Webtickets

“Joernaliste wat werklik vaardig is, sal nuwe markte vind.”

Na Media24 se aankondiging van sy voorneme om die meerderheid van sy gedrukte media te sluit en sowat 400 werknemers af te lê, het OFM Nuus in ’n onderhoud met die gesogte joernalis, Ruda Landman, gesels oor hierdie drastiese besluit wat ’n groot impak op soveel mense gaan hê.

Media24 oorweeg dit om die gedrukte weergawes van Beeld, Rapport, City Press, Daily Sun en Soccer Laduma te staak. Die digitale PDF-weergawes van Volksblad en Die Burger Oos-Kaap, asook die digitale platform SNL24 word deur sluiting bedreig.

Rapport en City Press gaan egter voort as digitale handelsmerke binne die Netwerk24- en News24-omgewings, terwyl Daily Sun na ’n onafhanklike, gratis e-nuuswebwerf oorgaan. Lesers en intekenare van Beeld, Volksblad en Die Burger Oos-Kaap sal steeds op Netwerk24 toegang tot streeknuus hê.

“Dit is nie Media24 se besluit nie; dit is die mark se besluit. Hulle maak toe, omdat mense dit nie meer wil koop nie. Ek meen, wanneer laas het jy werklik ’n gedrukte koerant gekoop? Sosiale media het vandag ’n groot impak op ons lewens, en dit bied toegang tot ’n groot hoeveelheid inligting wat dit moeilik maak vir tradisionele media om mee te ding.” 

Sy erken die potensiële werksverlies vir ten minste 400 individue, maar bly optimisties oor die toekoms van kwaliteit joernalistiek. “Joernaliste wat werklik vaardig is, sal nuwe markte vind.”

‘Bring iets unieks na die tafel’

Sy beklemtoon ook die emosionele impak van afleggings en beskryf dit as een van die grootste skokke wat ’n mens kan ervaar. “Ek het innige simpatie met diegene wat geraak word. Die beste raad wat ek nou vir iemand in daai posisie kan gee, is om hul unieke vaardighede te gaan heroorweeg en nuwe geleenthede te vind om dit te verkoop.” 

Sy raai ook mense aan om voordeel te trek uit beskikbare opleiding en nuwe moontlikhede. “Opleiding is orals tot jou beskikking, en jy kan jouself elke dag verbeter. Dit is nie maklik nie, maar dit is moontlik. Op die ou end moet jy iets unieks na die tafel bring.” 

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.