On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

FAK gryp in by Parys-museum

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:19 Wed, 03 Jul 2024

FAK gryp in by Parys-museum | News Article
Foto verskaf

““Die ingryping by die Parys-museum is aangespoor deur die verslegtende toestand van die terrein.”

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het belangrike opknappings- en skoonmaakwerk by die Parys-museum in die Noord-Vrystaat gedoen.

“Dié museum kort reeds jare dringend aandag,” sê Jan-Danie Malan, FAK-kultuurkoördineerder in die streek. “Die ingryping by die Parys-museum is aangespoor deur die verslegtende toestand van die terrein. 

“Die toestand by die Parys-museum plaas net weer die kollig op die erfeniskrisis wat dié provinsie beleef.” Dit het plaaslike kultuurnetwerke van Parys en Potchefstroom genoop om in te gryp en bystand te bied.

’n Span van die FAK het saam met Udolpho Rivierplaas die opknapping begin en kleiner take aangepak soos die skoonmaak en opruim van die museum se winkels en kantore, sê Malan. Die FAK het ook die pioniersuitstalling in die museum opgeknap.

Die Parys-museum het dringend aandag nodig. Foto verskaf

Tydens die opknapping het die FAK-span ook vragte vullis verwyder, nuwe lemmetjiesdraad aangebring om die perseel te beveilig en verskeie planne vir verdere verbeteringe uiteengesit. “Die FAK beoog om in die nabye toekoms nuwe stutbalke vir die dak op te sit, bome wat moontlike skade kan veroorsaak te snoei en geroeste geute te vervang.”

Malan doen ’n beroep op die gemeenskap om aan hierdie en ander erfenisbewaringsprojekte deel te neem. Hy moedig belangstellendes aan om by te dra deur hom by 082 965 7002 te bel.

OFM Nuus het vroeër berig dat die beeldhouwerke deur die bekende beeldhouer Danie de Jager op Hertzogplein in Bloemfontein in Junie gevandaliseer is.

Vragte vol vullis is verwyder. Foto verskaf

Die oortreders het een van die arms van ’n bronsbeeld op die verwaarloosde Hertzogplein van die elmboog tot by die hand afgesny. Merke op die standbeeld dui op pogings om dit te beskadig.

Die standbeeld, deel van die Hertzogmonument wat op 21 September 1968 onthul is, beeld ’n Afrikanerseun saam met ’n Engelse seun uit. Die Hertzogplein is genoem na genl. J.B.M. Hertzog, wat van 1895 af ’n regter in Bloemfontein, onderbevelvoerder van die Vrystaatse leër tydens die Boereoorlog en eerste minister van Suid-Afrika van 1924 tot 1939 was.

Malan het beklemtoon dat die situasie by die Parys Museum die dringende behoefte beklemtoon om die erfeniskrisis wat die provinsie raak aan te pak.

Die kantore is ook opgeruim. Foto verskaf

Lambertus van Rensburg, voorsitter van die Ou Presidensie- Historiese Vereniging in Bloemfontein, sê kwotasies vir die restourasie en omheining van die Hertzog-beelde is gekry.

“Hierdie kwotasies is aan Dawie Coetsee, hoof van die parkeafdeling van Mangaung-metro, voorgelê wat dit aan die munisipale bestuur en raad vir goedkeuring deurgegee het. Die goedkeuring is hangende.”

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.