On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Harrismith-tiener skitter in danskompetisie in New York

───   HEIDRÈ MALGAS 14:15 Wed, 03 Jul 2024

Harrismith-tiener skitter in danskompetisie in New York | News Article
Jennevie Gie (15). Foto verskaf

“Hou aan werk en as jy struikel, staan op en begin weer!”

’n Meisie van Harrismith in die Oos-Vrystaat is aangewys as algemene wenner in die Internasionale Kampioenskap vir die Uitvoerende Kunste (Ipac) op 26 en 27 Junie in New York.

Jennevie Gie (15) het ook drie diamanttoekennings gekry. Sy was ook die beste senior danswenner 2024 en natuurlik die algemene wenner van Ipac 2024.

“Dit was ’n onverwagte, emosionele oomblik,” sê Gie oor die oomblik toe sy haar naam hoor.

Sy sê sy moes in 2023 kwalifiseer, eers provinsiaal en toe nasionaal, om in 2024 internasionaal deel te neem. Liggaamlike voorbereiding het gewissel van vier tot vyf keer per week, soms ure aaneen, en selfs tuis het sy geoefen.

Robert Lovanna, mede-direkteur van WISP,  Karen Wagner Lovanna , direkteur van WISP,  Nicola Moolman, direkteur van Talent Africa, Melanie van Heerden, eienaar van Talent Africa. Foto verskaf

Die danse waarin sy diamanttoekennings gekry het, was die choreografie vir “Hostage” (liries), “Monster” (kontemporêr), en “River” (Akro).

“Die choreografie is deur my twee afrigters, Megan de Beer en Janette Henning, uitgewerk. Ek kies wel self die musiek, want dit is belangrik dat jy ’n konneksie met jou musiek het wat jy dan kan oordra na die gehoor. Al drie die liedjies het vir my betekenis wat ek kan uitleef deur dans.” 

Haar uitdagendste optrede was “River” (Akro), want dit bestaan uit blitsvinnige en moeilike akrobatiese oorbruggings van een beweging na die ander. “Adrenalien speel ’n groot rol en natuurlik help die ander spanmaats en spanleiers om mens te laat ontspan. Om gefokus te bly kom natuurlik vir my,” sê sy.

Haar grootste ondersteuners is haar ouers, Justin en Karisma, suster Kieshei (wat ook dans), en haar twee afrigters.

Dit verg harde werk om in die topvyf te wees. Foto verskaf

“Ons het die Great Gatsby op Broadway gaan kyk. Dit het my net laat besef hoe groot en hoeveel geleenthede daar eintlik in die uitvoerende kunste is. En dit is nie net Broadway nie.

“Ons het ook werksessies bygewoonen ek het Haley Huelsman van die TV-program Dance Moms ontmoet. Al hierdie dinge het my perspektief verander oor die uitvoerende kunste.” 

Haar raad aan ander is:  “Werk hard, maar bly nederig in wie en wat jy is. Moenie dat ander mense se opinies jou afsit nie. Neem voluit deel en kry soveel blootstelling as wat jy kan.”

Gie sê sy balanseer haar skoolwerk, persoonlike lewe en dans redelik maklik in die stadium omdat sy tuisonderrig ontvang en nie aan ander buitemuursaktiwiteite deelneem nie.

Haley Huelsman van 'Dance moms' saam met Jennevie Gie. Foto verskaf

Haar langtermynplan is om ’n loopbaan in die uitvoerende kunste te hê. Kort termyn is om aan plaaslike kompetisies deel te neem en die wêreld te sien. Serwië in 2025 is die volgende internasionale kompetisie.

“My reis was verseker nie net alles maanskyn en rose nie. Dit vat baie harde werk en toewyding en daar is kere wat jy nie wen of nie gekies word nie.

“Jy moet teleurstelling ook kan aanvaar, want dit is wat jou bou en ’n sterker persoon maak. Hou aan werk en as jy struikel, staan op en begin weer!”

OFM Nuus/ Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.