On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Petrusville-polisiebeamptes in hof vir gesteelde ammunisie, vuurwapens

───   ZENANDE MPAME 11:30 Thu, 13 Jun 2024

Petrusville-polisiebeamptes in hof vir gesteelde ammunisie, vuurwapens | News Article
Petrusville-polisiebeamptes in hof vir gesteelde ammunisie en vuurwapens. Foto verskaf

“Vuurwapens is later op Senekal en Marquard gevind.”

Twee polisiebeamptes het Donderdag (13/6) in die Phillipstownse landdroshof verskyn weens beweerde diefstal van vuurwapens en ammunisie.

Serss. Olebogeng Samuel Molotsi (44) en Phokoile Thomas Plaaitjie (43) het vlugtig voorgekom toe hul saak uitgestel is tot Dinsdag (18/6) vir hul borgaansoek. Hulle bly intussen in polisieaanhouding.

Die verdagtes is Woensdag (12/6) deur die Noord-Kaapse Valke in hegtenis geneem ná ’n multidissiplinêre optrede waarby die Valke en Kimberley se blitspatrollie betrokke was.

Die verdagtes is in aanhouding. Foto verskaf

Die Direkteur van Openbare Vervolging is oor die saak geraadpleeg en het tot die gevolgtrekking gekom vyf verdagtes moet aangekeer word vir diefstal en die onwettige besit van wapens en ammunisie.

“Ondersoeke het aan die lig gebring dat twee polisiebeamptes, wat in die polisiekantoor op Petrusville gewerk het, by die diefstal van staatsvuurwapens betrokke was,” sê Nomthandazo Mnisi, Noord-Kaapse Valke-woordvoerder.

“Lasbriewe vir inhegtenisneming is ingevolge artikel 43 van die Strafproseswet uitgereik vir vier (4) verdagtes en twee is reeds in hegtenis geneem. Albei verdagtes sal na verwagting Donderdag (13/6) voor die Phillipstown-landdroshof verskyn.”

Die verdagtes is Woensdag (12/6) deur die Noord-Kaapse Valke in hegtenis geneem. Foto verskaf

Die voorval het op Maandag 6 November in die Petrusville-polisiekantoor plaasgevind toe ’n klag by die provinsiale kommissaris, Koliswa Otola, se kantoor aanhangig gemaak is oor gesteelde vuurwapens.

OFM Nuus het vroeër berig oor boodskappe wat die rondte doen op sosiale media waarin beweer word dat die vuurwapens gesteel is terwyl polisiebeamptes óf dronk was óf aan diens geslaap het.

Toe die beamptes die volgende oggend ’n oorhandiging aan kollegas moes doen, was die kluis oop en verskeie gewere, sowel as ammunisie, was saam met die kluissleutel weg.

Tebogo Thebe, Noord-Kaapse Valke-woordvoerder, het destyds gesê hulle ondersoek die saak, maar niemand is toe nog in hegtenis geneem nie. “Die vuurwapens is op Sondag 12 November teruggevind nadat wetstoepassingsagentskappe inligting opgevolg het en twee mansverdagtes naby die R70-pad tussen Senekal en Rosendal in besit van ’n R5-geweer en 27 rondtes ammunisie aangekeer is.”

“Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van twee ander verdagtes van Marquard met twee haelgewere en ’n pistool.” Een beskuldigde wat in hegtenis geneem is, is op borgtog vrygelaat terwyl die ondersoek voortduur.

‘Segs ses is hieroor in hegtenis geneem’

Altesame 357 vuurwapens, wat as bewysstukke in die polisie se SAP 13-stoorkamers landwyd geberg is, is sedert die 2020/21-boekjaar gesteel, het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, in Januarie gesê. Slegs ses mense is tot dusver hieroor in hegtenis geneem.

“Dit laat die vraag ontstaan wat geword het van die hofsake waarin hierdie bewysstukke gebruik moes word. Daar kan geredelik aanvaar word dat vuurwapens hoofsaaklik verbind word met ernstige sake soos moord en roof en sonder hierdie bewysstukke is die kanse goed dat die sake nie sal slaag nie.”

Hy het gesê sy party het “ernstige bedenkinge oor die feit dat geen lid van die polisie aangekeer is nie. Dit is moeilik om in te sien hoe honderde vuurwapens uit goed beskermde bergingsgeriewe gesteel kan word sonder hulp van binne.”

Altesame 357 vuurwapens wat as bewysstukke in die polisie se SAP 13-stoorkamers landwyd geberg is, is sedert die 2020/21-boekjaar gesteel. Foto: Wikipedia

Volgens Groenewald skep dit die indruk dat die wapens gesteel word sodat verdagtes vervolging en straf kan vryspring. “Hierdie situasie wys die polisie het geen les geleer het uit die Christiaan Prinsloo-aangeleentheid nie.

“Prinsloo, ’n voormalige polisiekolonel, het meegewerk om tussen 2007 en 2015 meer as 2 000 wapens in polisiebesit te steel en aan bendes te verkoop. Van die gesteelde vuurwapens was in 2016 reeds gekoppel aan die dood van 89 kinders terwyl 170 kinders daarmee gewond is. Prinsloo het klaarblyklik skaars drie jaar en tien maande van ’n vonnis van agtien jaar uitgedien.”

Cele het ’n lys voorsorgmaatreëls genoem wat die laaste jare ingestel is om vuurwapendiefstal uit polisiebesit te voorkom. Foto: SABC News

In Cele se antwoord aan die VF Plus op ’n vraag in die parlement, het hy ’n lys voorsorgmaatreëls genoem wat die laaste jare ingestel is om vuurwapendiefstal uit polisiebesit te voorkom. 

Dit sluit in verpligte veiligheidstandaarde vir SAP 13-stoorkamers en kluise, nuwe voorskrifte oor die bou van die bergingsgeriewe, asook die uitgebreide en omvattende gebruik van tegnologie.

“Hierdie voorkomingsmaatreëls is duidelik nie effektief nie,” het Groenewald gesê. “Die VF Plus sal navrae doen om vas te stel tot watter mate dit in die praktyk toegepas word en of dit net planne op papier is.

“Terwyl die staat self onwettige vuurwapens en ammunisie in die hande van gevaarlike misdadigers plaas, is daar pogings om wettige, private vuurwapeneienaars te ontwapen.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.