On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Drie diamantsmokkelaars vas in Welkom ná Valke-operasie

───   HEIDRÈ MALGAS 06:00 Fri, 07 Jun 2024

Drie diamantsmokkelaars vas in Welkom ná Valke-operasie | News Article
Photo: IOL News

“Op Woensdag (5/6) is die verdagtes by die Goldfields Mall in Welkom in ’n Mercedes-Benz onderskep. By inhegtenisneming was hulle in besit van ses ongepoleerde en ongeslypte diamante.”

Drie mans sal Vrydag (7/6) voor die Welkomse landdroshof verskyn op aanklagte vir die beweerde oortreding van die Diamantwet 56 van 1986.

“In ’n suksesvolle operasie uitgevoer deur die Valke, is drie mans tussen die ouderdomme van 40 en 55 in hegtenis geneem vir onwettige handel in diamante,” sê Zweli Mohobeledi, Valke-woordvoerder.

Hy sê die operasie is begin nadat die Valke ’n wenk ontvang het oor ’n diamantsmokkelnetwerk waarby die verdagte glo betrokke is. Deur met misdaadintelligensie saam te werk, kon die Valke die inligting inspan vir ’n suksesvolle optrede.

‘Hulle was in besit van ses ongepoleerde en ongeslypte diamante’

“Op Woensdag (5/6) is die verdagtes by die Goldfields Mall in Welkom in ’n Mercedes-Benz onderskep. By inhegtenisneming was hulle in besit van ses ongepoleerde en ongeslypte diamante,” sê hy.

Volgens die Suid-Afrikaanse regering se webwerf is die bedoeling van die Diamantwet 56 van 1986 om voorsiening te maak vir die stigting van ’n raad bekend as die Suid-Afrikaanse Diamantraad vir die beheer oor die besit, die aankoop en verkoop, die verwerking en die uitvoer van diamante; en vir aangeleenthede wat daarmee in verband staan.

OFM Nuus het vroeër vanjaar berig oor ’n man wat by ’n pandjieswinkel in ’n winkelsentrum in Heatherdaleweg, Bloemfontein, ingestap het met wat soos vyf edelstene gelyk het. Hy is deur die Heidedal-polisie vasgetrek toe hy dit probeer verkoop het.

‘Die 39-jarige man het probeer om ongeslypte diamante te verkoop’

Hy het beweer dit is alles diamante. Volgens die polisie kon hy egter nie ’n lisensie toon om te bewys hy is geakkrediteer om die edelgesteentes te hanteer nie.

Die polisie het op ’n wenk gereageer, sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Ons het na die winkelsentrum in Heatherdaleweg gejaag en die 39-jarige man gevind wat probeer het om ongeslypte diamante te verkoop.”

Daar is ontdek dat drie van die klippies egte diamante is, wat waarskynlik onlangs ontgin is. “Die ander twee klippies is vals.” Hy sê die man in hegtenis geneem en in die Heidedal-polisiekantoor van die besit van onwettige diamante aangekla.

‘Dit is teen die wet om ongeslypte diamante in Suid-Afrika te besit’

Onwettige mynbou is aan die toeneem in Suid-Afrika en het met die jare ’n uitdaging vir die land se wetstoepassingsagentskappe geword. Dit is teen die wet om onverwerkte edelmetaalerts, platinumgroepmetale, gouddraende erts of ongeslypte diamante in Suid-Afrika te hê sonder die nodige statutêre magtiging.

Volgens die Mineraleraad van Suid-Afrika bereik Suid-Afrika se diamantbedryf nog lank nie die einde van sy leeftyd nie. In 2022 het Suid-Afrika 10,2 miljoen ton diamante ontgin. Die totale diamantverkope in 2022 was R27,7 miljard. 

Die bedryf dra dus by tot die ekonomie deur buitelandse valuta te verdien, werk te skep en belasting te betaal.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.