Central SA
Plaasmoord: Verdagtes laat vaar borgtogaansoek─── HEIDRÈ MALGAS 11:44 Mon, 20 May 2024

“Ons sal almal daadwerklik na ons gesinne en familie se veiligheid moet kyk. Jy besef dit eers as jy dit aan jou lyf voel.”
Twee verdagtes het Maandag (20/5) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn in verband met die grusame plaasmoord op ’n bejaarde egpaar naby Glen, buite Bloemfontein. Die saak is uitgestel tot 1 Julie nadat die verdagtes hulle borgtogaansoek laat vaar het.
Die twee vermeende moordenaars, Mohau William Lebeko (39) en Motlalentoa Lucas Wolf (26), bly in aanhouding.
OFM Nuus het vroeër berig dat hulle na bewering R220 000 – in twee betalings van R110 000 elk – van die egpaar se bankrekening na hul persoonlike bankrekeninge oorgeplaas het. Christo (76) en Christa (73) Morrison se selfone en bankkaarte is in besit van die verdagtes gevind toe hulle Vrydag 10 Mei by ’n gastehuis op Bloemhof in hegtenis geneem is.
Die twee vermeende moordenaars, Mohau William Lebeko (39) en Motlalentoa Lucas Wolf (26). Foto: Heidrè Malgas
Die Morrisons se liggame is Saterdag 4 Mei op die plaas Rietfontein by Glen, sowat 25 km buite Bloemfontein, gevind nadat ’n buurman die polisie ontbied het omdat hulle nie op sy oproepe gereageer het nie.
Naasbestaandes het hulle hartseer in Facebook-kommentaar verwoord. Nicky Morrison sê: “My hart is nie lekker nie. My trane is stom. Dit voel of ek te naby aan ’n bom was wat ontplof het. Dis onnodig. Dis wreed.
“Julle het dit nie verdien nie. Ons sal almal daadwerklik na ons gesinne en familie se veiligheid moet kyk. Jy besef dit eers as jy dit aan jou lyf voel.”
Breggie Hattingh sê daar is nie woorde vir sulke wreedaards nie; “hou hulle net agter tralies”.
’n Aktivis teen plaasmoorde, Petrus Sitho, sê hy is baie hartseer oor die voorval omdat die egpaar nie teruggebring kan word nie. Hy was in die hof met hul eerste verskyning. Daar is duidelike bewyse teen die verdagtes, so hy verstaan nie hoekom die saak soos al die ander lank gaan vat om af te handel nie.
Hy sal veg, sê Sitho, en hy probeer in verbinding tree met Ronald Lamola, minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, en Bheki Cele, minister van Polisie, om ’n einde te bring aan plaasmoorde en hulle bewus te maak van die erns van plaasmoorde.