On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Dit is nou dr. Rassie Erasmus!

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:42 Fri, 03 May 2024

Dit is nou dr. Rassie Erasmus! | News Article
Rassie Erasmus. Foto NWU

"Die Boklegende Danie Craven het in 1935 die eerste van sy drie doktorsgrade verwerf en die 2007-Wêreldbekerwenner Jannie du Plessis is ’n gekwalifiseerde mediese dokter."

Hy is bekend as die Springbokafrigter met twee Wêreldbeker-titels agter sy naam, maar Johan (Rassie) Erasmus spog nou met ’n eredoktorsgraad.

Suid-Afrikaanse rugby het nog ’n doktor om mee te spog. Die Boklegende Danie Craven het in 1935 die eerste van sy drie doktorsgrade verwerf en die 2007-Wêreldbekerwenner Jannie du Plessis is ’n gekwalifiseerde mediese dokter.

Erasmus se graad is Donderdag (2/3) deur die Noordwes-Universiteit (NWU) aan hom toegeken vir sy rol in die Springbokke se Wêreldbekeroorwinnings in 2019 en 2023, asook sy bydrae tot nasiebou en maatskaplike samehorigheid.

Die NWU-raad het die toekenning op hul gewone vergadering op 16 November goedgekeur. Die versoek vir die toekenning van die graad Philosophiae Doctor (Honoris Causa) in Afrigtingkunde is deur die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe ingedien.

Rassie Erasmus. Foto: Noordwes-Universiteit 

Die eredoktorsgraad is aan Erasmus toegeken vir sy innoverende en buitengewone bestuur van die Springbokke in hul oorwinnings in 2019 en 2023 se Wêreldbekertoernooi, sy besondere posisie in die internasionale rugbyafrigtersarena, sy sterk dryfkrag en fokus op diversiteit en inklusiwiteit, en sy verbintenis tot maatskaplike verantwoordelikheid, sê die NWU.

“Nadat Erasmus in 2018 as nasionale spanafrigter aangestel is, het Erasmus die dapper besluit geneem om Kolisi as die Springbokke se eerste swart Afrikaleier te kies. Erasmus het getoon dat hy ’n nasiebouer is op wie die land trots kan wees, sê Awie Kotzé, die dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskapp.

Rassie Erasmus spog nou met ’n eredoktorsgraad. Foto Noordwes-Universiteit

“Rassie verpersoonlik die beginsels van veerkragtigheid, vasberadenheid en spanwerk wat vir ons by die Noordwes-Universiteit in ons opvoedkundige missie van groot waarde is.

“Sy bydrae aan Suid-Afrika – as rugbystrateeg en ook nasiebouer – dien as ’n skitterende voorbeeld van wat vermag kan word wanneer passie, toewyding en visioenêre leierskap saamgevoeg word. Hierdie gesogte erkenning is nie net welverdiend nie, maar ook ’n getuienis van die merkwaardige bydraes en buitengewone invloed wat Rassie op die gebied van sport en innoverende sportbestuur gemaak het,” sê Bert Sorgdrager, raadsvoorsitter.

Onder Erasmus se leiding het die Springbokke Engeland in 2019 in Yokohama, Japan, in die Wêreldbekereindstryd met 32-12 geklop. In 2023 het hulle Nieu-Seeland in Parys, Frankryk,  met 12-11 gewen. Die Springbokke het ook in1995 en 2007 die Wêreldbeker verower. .

Rassie Erasmus word as rugbystrateeg en nasiebouer beskou. Foto: Noordwes-Universiteit

Siya Kolisi, Springbokkaptein, en Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, was ook Donderdag by die gradeplegtigheid in Potchefstroom.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.