On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Gautrans gevra om ‘kruising van die dood’ te beveilig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:19 Tue, 30 Apr 2024

Gautrans gevra om ‘kruising van die dood’ te beveilig | News Article
Foto: Google Maps

“Sover die VF Plus kon vasstel, het 24 mense al sedert 2022 hul lewe by dié kruising verloor en talle is ernstig beseer.”

Die R57-en-R42-kruising op Vanderbijlpark staan bekend as die “kruising van die dood” en was al die oorsaak van talle sterftes.

Dit is hier waar Gerbrandt Ferreira (34) en sy ma, Magda (63), op Saterdag 20 April oorlede is nadat ’n vragmotor hulle voertuig getref het.

Die vragmotor het eers ’n paar meter verder tot stilstand gekom, nadat die bestuurder die slag gehoor het. “Die bestuurder het toe eers besef dat hy die Ferreiras se motor onder die vragmotor saamsleep,” het kol. Noxolo Kwena gesê.

“Die passasiers was in die motor vasgekeer en is op slag dood. Die vragmotorbestuurder het na bewering nie by die kruising stilgehou nie,” sê Kwena.

Gerbrandt en sy ma, Magda. Foto: Vaalweekblad

Magda het op die dag van die botsing van Koster na Vanderbijlpark verhuis om nader aan haar seun en kleinseun te wees.

“Die VF Plus het Gautrans versoek om die R57-en-R42-kruising op Vanderbijlpark te beveilig om motorongelukke te verminder en lewensverlies te voorkom,” sê Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in Emfuleni.

Senekal sê sover die VF Plus kon vasstel, het 24 mense al sedert 2022 hul lewe by dié kruising verloor en talle is ernstig beseer.

‘Die kruising is saans stikdonker’

Die party het in ’n skrywe aan Gautrans gevra vir die oprigting van oorhoofse ligte, padtekens wat aandui dat dit ’n hoë ongeluksone is, en die aanbring van betonriffels op die padoppervlak om motoriste te dwing om snelheid te verminder.

Die party het ook gevra dat meer verkeerspolisie by die kruising ontplooi word om bestuurders vas te vat wat nie stilhou nie.

Senekal se egter dat sy Maandag (29/04) gesien het dat daar wel by die kruising gewerk word. “Hoewel die robotte nou werk, moet daar meer hoofligte opkom. Die kruising is baie donker saans en die spoed waarteen motors teen die helling afkom, is vreesaanjaend.”

Elriesa Fourie was agt maande swanger toe sy verongeluk het. Foto: circleofcricket

Op 5 Maart 2019 het ’n ongeluk by dié lewensgevaarlike kruising die lewe van die Protea-krieketspeler, Elriesa Fourie, en haar ongebore baba geëis terwyl haar man, Rudi, ernstig beseer is. Elriesa was agt maande swanger.

In September was Roné Groenewald (17) en haar vriend (22), wie se familie verkies dat sy naam nie genoem word nie, ook in ’n ongeluk by dié kruising betrokke.

Die twee jong mense is op slag dood, nadat hulle motor met ’n Cherry Tiggo Pro 4 gebots het. Die insittendes van die Cherry het die ongeluk oorleef. Groenewald was ’n leerder aan die Hoërskool Driehoek.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.