On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat-Onderwys veroordeel beweerde seksuele misbruik van leerder

───   HEIDRÈ MALGAS 15:55 Tue, 16 Apr 2024

Vrystaat-Onderwys veroordeel beweerde seksuele misbruik van leerder | News Article
Foto: Hentie Cilliers Hoërskool

“Die leerder sal psigososiale ondersteuning kry, en die skool het inhaallesse gereël aangesien hy leertyd verloor het tydens sy lang afwesigheid.”

Die Vrystaatse Departement van Onderwys veroordeel die beweerde seksuele misbruik van ’n leerder (17) van die Hentie Cilliers Hoërskool op Virginia deur ’n onderwyser (27).

Na bewering het die seksuele misbruik op 25 Maart buite die Goudveldse skool plaasgevind, sê Howard Nbada, Onderwys-woordvoerder.

Die seun was lank afwesig van die skool. Toe die skool navraag doen oor sy afwesigheid, het die leerder beweer dat hy geboelie en seksueel misbruik is deur die onderwyser.

‘Die departement werk saam met die skoolbestuur’

“Woensdag (10/4) is die onderwyser in hegtenis geneem en aangekla van beweerde seksuele misbruik van ’n leerder,” sê Ndaba. Die departement werk saam met die skoolbestuur en die skoolbeheerliggaam om feite oor die saak te bevestig.

“Ons veroordeel enige vorm van seksuele misbruik van leerders in ons skole. Skole behoort leersentrums te wees waar kinders gevorm en gekoester word om verantwoordelike volwassenes te word, nie onderwerp te word aan enige vorm van misbruik en afknouery nie,” sê hy.

Hoewel dit blyk dat die onderwyser ’n SBL-werknemer is, sal die departement geen steen onaangeroer laat in die uitroei van enige vorm van seksuele misbruik in Vrystaatse skole nie, verseker Ndaba.

‘Die leerder sal psigososiale ondersteuning kry’

Die beskerming van leerders is ’n primêre verantwoordelikheid van almal in wie se sorg hulle gelaat word. Hy voeg by dit is tyd om verontwaardiging om te skakel in optrede.

Die departement loof die skoolbestuur vir hul vinnige optrede in die skorsing van die onderwyser. “Die leerder sal psigososiale ondersteuning kry, en die skool het inhaallesse gereël aangesien hy leertyd verloor het tydens sy lang afwesigheid,” het hy bygevoeg.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mc/cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.