On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Tiener van Harrismith veg verbete teen seldsame kanker

───   KAREN VAN DER BERG 12:54 Thu, 28 Mar 2024

Tiener van Harrismith veg verbete teen seldsame kanker | News Article
Jana-Mari Filmalter (15) van Harrismith. Foto verskaf

“Die gewas het glad nie gekrimp nie en het ook twee knoppe bygekry.”

’n Skrander leerling van die Hoërskool Harrismith is in die stryd van lewe gewikkel met ’n seldsame soort kanker.

’n Gewas is ’n jaar gelede by Jana-Mari Filmalter (15) gevind, dieselfde jaar waarin die gr. 9-leerder ’n bronsmedalje in die Internasionale Ekspo vir Jong Wetenskaplikes verower het.

Jana-Mari Filmalter het verlede jaar ’n bronsmedalje in die Internasionale Ekspo vir Jong Wetenskaplikes gewen. Foto verskaf

Aanvanklik is gedink die gewas is goedaardig, vertel haar ma, Judith Filmalter. Maar ná verskeie biopsies en ’n hele klompie dokters later is vasgestel die gewas (paraganglioom) is kwaadaardig.

“Ons het die hele Desember in Bloemfontein deurgebring sodat die gewas deur 23 sessies bestraling gekrimp kon word. Maar dit het ongelukkig nie die gewenste uitwerking gehad nie,” vertel Judith; inteendeel, die dokters het vasgestel Jana-Mari se prognose lyk nie goed nie. Die gewas het glad nie gekrimp nie en het ook twee knoppe bygekry.

Jana-Mari Filmalter het geen funksie van haar regterlong nie. Foto verskaf

Die gewas neem die ruimte van Jana-Mari se regterlong in beslag. Dit lei daartoe dat sy geen funksie van dié long het nie. Die gewas is ook geheg aan haar hoofslagaar en kry sy bloed direk daarvandaan. Dit is ook aan ’n groot hoeveelheid organe verbind, asook die rugwerwel en rugmurg.

Judith sê geen spesialis of neurochirurg sien kans om Jana-Mari te opereer om die gewas te probeer verwyder nie. “Die kans dat sy dit sal oorleef, is te gering.” Daarom gaan hulle nou eers met chemoterapie begin. Hulle het virale chemoterapie gekies omdat dit hulle grootste kans op sukses is. Maar dié soort behandeling het heelwat newe-effekte.

“Ons moet ook vir Jana-Mari by ’n fertiliteitspesialis in Bloemfontein kry sodat van haar eierselle geoes en gevries kan word. Die kans is taamlik groot dat sy ná die behandeling steriel kan wees.”

Jana-Mari Filmalter. Foto verskaf 

Die gesin het genetiese toetse laat doen omdat dié soort kanker so seldsaam is. Jana-Mari ly aan ’n genetiese afwyking, HPPS, wat veroorsaak dat haar liggaam nie teen kanker kan veg nie. Dit beteken Judith of haar man, Marius, het ook die afwyking. Daar is ’n 50/50-kans dat hulle seun, Jandré (11), ook daaraan ly.

“Op die oomblik leef ons nie in vrees of dink ons nie te ver vooruit nie. Ons moet nou net eers vir Jana-Mari gesond kry.”

Sy sê die geldelike implikasie op die gesin is ongelooflik erg. “Ons het wel ’n hospitaalplan. Maar moet vir geen oomblik ooit dink ’n hospitaalplan is voldoende of dek alles nie.”

‘Ons sal op straat sit en alles verkoop’

Hulle moet die fertiliteitspesialis betaal, maandelikse medikasie koop en is verantwoordelike vir bybetalings op al die skanderings. Die gesin se reis- en verblyfkoste tussen Harrismith en Bloemfontein is ook enorm. “Die geld maak nie vir ons saak nie. Ons sal op straat sit en alles verkoop as dit beteken ons kan Jana-Mari red.”

’n Skarefinansieringveldtog op BackaBuddy, Jana Filmalter, is begin om die gesin te help om die onkoste te dek. “Ons wil almal bedank vir hulle ondersteuning en bystand. Veral die gemeenskap van Harrismith en die onderwysers.

“Julle sal nooit weet wat dit vir ons beteken nie. Vir nou gaan ons nie (moed) opgee nie; ons gaan sorg dat sy gesond word.”

OFM Nuus/Karen van der Berg dg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.