On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Swaar weer in Sentraal-Suid-Afrika verwag

───   ZENANDE MPAME 11:02 Sat, 23 Mar 2024

Swaar weer in Sentraal-Suid-Afrika verwag | News Article
Foto: Unsplash/Osman Rana

“Die weerdiens sê dit kan tot plaaslike oorstromings van paaie lei.”

’n Geel, vlak-twee waarskuwing is uitgereik vir erge donderstorms met moontlike swaar reënbuie, groot hoeveelhede klein hael, skadelike wind en oormatige weerlig in Sentraal-Suid-Afrika en die Wes-Kaap dié Saterdag (23/3).

Die impak sal na verwagting erger wees oor die oostelike dele van die Noord-Kaap sowel as die westelike dele van die Vrystaat en Noordwes.

Die Mangaung Metro Munisipaliteit het 'n waarskuwing aan inwoners gerig om versigtig te wees op die paaie en in hul huise aangesien sterk wind en swaar reën verwag word.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n waarskuwing gerig wat aandui dat storms met sterk wind, swaar reën en hael gepaard kan gaan, wat tot plaaslike oorstromings kan lei.

“Die metro doen ’n beroep op alle inwoners en padgebruikers om aandag te gee aan waarskuwings en om spoed in nat toestande te verminder en seker te maak hul hoofligte is aangeskakel,” het die Mangaung-woordvoerder, Qondile Khedama, gesê.

“Ons doen ’n beroep op alle inwoners om nie strome of riviere oor te steek waar water bo die enkels is nie en ons doen ’n beroep op huishoudings om toe te laat dat water deur hul erwe kan vloei.”

In geval van enige noodgevalle tydens uiterste weerstoestande, word inwoners versoek om die Mangaung-brandweer te kontak by 051 406 6666 of 051 409 9600. Hulle kan ook die ambulans by 10177 kontak.

Boonop is die waarskynlikheid ook groter dat bome kan omval en moontlik paaie blokkeer. Kommer bestaan oor openbare veiligheid en infrastruktuurintegriteit. Landbouverliese en ontwrigtings van noodsaaklike dienste vererger die potensiële impak van hierdie uiterste weertoestande verder.

Ná die afgelope tyd se erge hittetoestande word daar ook reeds bespiegel oor die Paasnaweek se weer, wat verstaanbaar is met talle mense wat uitsien na dié langnaweek. 

Illustrasie: https://www.timeanddate.com/

Illustrasie: https://www.timeanddate.com/

Illustrasie: https://www.timeanddate.com/

Illustrasie: https://www.timeanddate.com/

In werklikheid is dit te vroeg om in hierdie stadium ’n akkurate voorspelling te gee, maar dit lyk tog of daar koeler, nat weer op pad is tydens dié welverdiende blaaskans. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ’n koel, nat Paasnaweek oor baie dele van die land.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.