On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Britse koning drink tee op Vrystaatse plaas, en ander bloubloedverhale

───   08:41 Thu, 15 Feb 2024

Britse koning drink tee op Vrystaatse plaas, en ander bloubloedverhale | News Article
Die geskiedkundige foto van Tibbie Steyn, in die swart rok, saam met die Britse koning George, tydens die koninklike besoek aan Suid-Afrika in 1947.

“Die kroonprins van Albanië wat suiwer Afrikaans praat, ’n dogter van die koning van Joegoslawië wat die matrone van die kraameenheid van die Groote Schuur-hospitaal was, die sjah van Iran wie se pa hier in Suid-Afrika oorlede is.”

“Enigeen in Suid-Afrika wat lief is vir ’n lekker stukkie gebraaide snoek, behoort vir lady Anne Barnard dankie te sê,” sê Daniël Lötter, skrywer van die boek Blou bloed: Koninklike spore in Suid-Afrika, wat eersdaags deur Protea Boekhuis bekend gestel word.

Die boek vertel onder meer van die Georgiese grootvors wat aan die Boere se kant in die Anglo-Boereoorlog kom veg het en op wie se grafsteen ‘Niko die Boer’ staan, die Skotse hertog met ’n winkel in Louis Trichardt en van ’n agterkleinseun van keiser Karel van Oostenryk wat in die Wes-Kaap boer.

Lötter sê die onderwerp van adellikes interesseer hom al vir baie lank. “Ek het oor die jare brokkies oor die doen en late van koninklikes en adellikes op my Facebookblad geplaas, en dit het altyd reaksie uitgelok.

‘Dit is asof die boek net opgedaag en gesê het, nou moet jy my skryf’

“My boekredakteur het gesê dit is dalk ’n idee om iets hieroor saam te stel. Kort ná die dood van koningin Elizabeth het ek ’n klomp plasings gedoen oor die tradisie van troonopvolgings en daarop was heelwat reaksie, baie meer as wat ek verwag het.”

Die skrywer Daniël Lötter. Foto: Facebook

Die idee van ’n boek is weereens geopper en Lötter het besluit om dit vanuit die invalshoek van alle koninklikes wat sterk bande met Suid-Afrika het, nie net die Britse adel nie, saam te stel.

Toe hy begin navors, het hy besef daar is ’n skatkis van stories waaroor nog nooit voorheen geskryf is nie. “Dit is asof die boek net opgedaag en gesê het, nou moet jy my skryf.”

Die boek bevat ’n versameling insidente van Suid-Afrikaners met koninklikes, die tradisie van monargieë en hoe adellike titels werk. “Wat is die verskil tussen ’n baron en ’n hertog en hoekom is ’n graaf se vrou nie ’n gravin nie, hoekom is ’n keiser belangriker as ’n koning en so aan.”

“Tante van die Nederlandse koning wat in die Karoo boer’

Die boek vertel ook van hedendaagse adellikes wat in Suid-Afrika woon. “Die tante van die Nederlandse koning wat in die Karoo boer, koning Konstantyn van Griekeland se lang verbintenis met die land, prinses Charlotte van Liechtenstein, boervrou van die Overberg maar ook die kleindogter van die laaste keiser van Oostenryk.

“Die kroonprins van Albanië wat suiwer Afrikaans praat, ’n dogter van die koning van Joegoslawië wat die matrone van die kraameenheid van die Groote Schuur-hospitaal was, die sjah van Iran wie se pa hier in SA oorlede is.

“As jy gaan soek na die hertog van Atholl, die mees senior Skotse edelman, gaan maak net ’n draai in Louis Trichardt en stap by sy winkel in. As Skotland ooit ’n monargie sou word, sal die hertog van Atholl die koning van Skotland word.

“As die koning my wil sien, kan hy na my toe kom”

Die boek vertel ook die kostelike verhaal van tant Tibbie, die weduwee van president Steyn, wat koning George van Brittanje tydens die koninklike besoek in 1947 se uitnodiging van die hand gewys het. “As die koning my wil sien, is hy welkom vir ’n koppie tee hier by Onze Rust,” het sy laat weet.

Blou bloed: Koninklike spore in Suid-Afrika, verskyn eersdaags. 

Lötter sê die boek was lekker om te skryf, al was dit uitdagend om die talle onderhoude wat hy moes voer gereël te kry. “Vir ’n tyd lank het ek in ’n wêreld verkeer waaraan ons gewone Suid-Afrikaners  nie regtig blootstelling het nie.

“Byvoorbeeld, mens ry na Napier en hier is prinses Charlotte se seun, Valerian van der Byl en hy loop daar rond soos enige boerseun met sy kortbroek, songebrand van werk in die boorde. En die volgende oomblik kom dit in jou gedagtes op dat sy oupagrootjie keiser Karel die tweede van Oostenryk, die koning van Hongarye was.

“Met die skryf van die boek het ek besef ons leef in ’n tyd waar ons selektief rondgaan met die geskiedenis. Dit is deesdae nie baie gewild om Europese geskiedenis in ag te neem nie, maar dit het so ’n belangrike invloed op wie ons is en hoe ons hier gekom het, dit kan nie geïgnoreer word nie.

Soos gebraaide snoek en lady Anne? Lötter lag. “Die rede daarvoor staan in die boek.”

Blou bloed: Koninklike spore in Suid-Afrika is vanaf Maart beskikbaar.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.