On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstroom het beste drinkwater in Noordwes – nuwe verslag

───   12:14 Wed, 10 Jan 2024

Potchefstroom het beste drinkwater in Noordwes – nuwe verslag | News Article
Foto: NBC News

“Laat hulle nie mense weet die water is besoedel nie? Dit is sekerlik ’n misdaad.”

Potchefstroom is die enigste munisipaliteit in Noordwes waar die drinkwater die gesogte Bloudruppelstatus behaal het, volgens die jongste Blue Drop Watch-verslag. Aan geen munisipaliteit in die Vrystaat of die Noord-Kaap is Bloudruppelstatus toegeken nie.

Luidens die verslag, wat deur die Nasionale Departement van Water en Sanitasie (DWS) uitgereik is, voldoen amper die helfte van Suid-Afrika se munisipaliteite nie aan die standaard vir drinkwater nie.

‘Bloudruppeltelling van 95% of meer word as uitsonderlik beskou’

As ’n watervoorsieningstelsel ’n Bloudruppeltelling van 95% of meer behaal, word dit as uitsonderlik beskou, maar as dit minder as 31% behaal, word dit as in ’n kritieke toestand beskou.

Vrystaat

Die provinsie voorsien drinkwater aan net meer as drie miljoen mense. Altesame 31 watervoorsieningstelsels (38,75%) is in ’n kritieke toestand. Die Mafube-munisipaliteit op Frankfort het die laagste Bloudruppeltelling (4,3%) in die land ontvang.

Die beste drinkwater in die Vrystaat word voorsien deur Metsimaholo (84,2%) aan Sasolburg en Deneysville, Dihlabeng (76,6%) aan Bethlehem, Clarens, Fouriesburg en omstreke, en Tswelopele (73,8%), wat Bultfontein en Hoopstad insluit. 

Mangaung het onderskeidelik 72% (Welbedacht) en 62% (Maselspoort) behaal.

‘Swakste drinkwater is in Harrismith, Kestell en Phuthaditjhaba’

Benewens Mafube is die swakste drinkwater in die provinsie te kry op Harrismith, Kestell en Phuthaditjhaba onder Maluti-a-Phofung (17,7%) en Tokologo (24,8%), wat water voorsien aan Boshof, Dealesville en Hertzogville.

Noord-Kaap

Met ’n bevolking van ongeveer 1,13 miljoen is die provinsie se 176 watervoorsieningstelsels in ’n algehele swak toestand. Daar is bevind dat 123 (70%) stelsels in ’n kritieke toestand is.

Die beste drinkwater word deur die Dawid Kruiper-munisipaliteit aan Upington voorsien met ’n Bloudruppeltelling van 83,85%. Thembelihle (Hopetown, 59,52%) en Tsantsabane (Postmasburg, 56%) is in die tweede en derde plek.

Kamiesberg (Garies, Kamieskroon, 8,02%), Renosterberg (Petrusville, 9,2%) en Emthanjeni (De Aar, 11,94%) lewer die swakste drinkwater.

Noordwes

Die provinsie se 39 watervoorsieningstelsels voorsien meer as 2,2 miljoen inwoners van drinkwater. Een toevoerstelsel, Potchefstroom, wat deel is van die JB Marks-munisipaliteit, het Bloudruppelstatus ontvang vir sy telling van 92,60%. Matlosana (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney, Hartbeesfontein) het ’n telling van 87,82% en Rustenburg 78,31%.

Die swakste drinkwater in Noordwes word verskaf deur Kgetlengrivier (Koster, 21,6%), Dr. Ruth S. Mompati (Vryburg, 31,47%) en Ngaka Modiri Molema (Mahikeng, 36,74%).

Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, het sy kommer uitgespreek oor die afname in die prestasie van drinkwaterstelsels. Altesame 277 uit 958 (29%) watervoorsieningstelsels in die land is geïdentifiseer as in ’n kritieke toestand – ’n skerp toename van die 174 stelsels wat in 2014 geïdentifiseer is.

‘Die watersituasie is inderdaad ’n krisis’

Dr. Ferrial Adam, hoof van die nieregeringsorganisasie WaterCAN, het aan BusinessTech gesê die watersituasie is inderdaad ’n krisis. “Solank die regering sê daar is geen krisis nie, sal hulle nie dringend optree nie en sal die siklus van rampspoed voortduur.

“As byna die helfte van die land se munisipaliteite nie aan drinkwaterstandaarde voldoen nie, moet mense nie water uit daardie stelsels drink sonder om dit te kook nie. Laat hulle nie mense weet dat die water besoedel is nie? Dit is sekerlik ’n misdaad,” sê sy.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.