On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

3 van Sentraal-Suid-Afrika ding mee om Brendan Peyper se hart – FOTO’S

───   KAREN VAN DER BERG 10:04 Wed, 10 Jan 2024

3 van Sentraal-Suid-Afrika ding mee om Brendan Peyper se hart – FOTO’S | News Article
Brendan Peyper. Foto verskaf

“Iemand wat ’n aanwins tot my lewe is.”

Wanneer die derde seisoen van die gewilde Op my eish! Donderdag (11/1) begin, sal 16 vroue baie ywerig probeer om die sanger Brendan Peyper se hart te verower.

Drie van hulle is van Sentraal-Suid-Afrika: Rachelle Fourie (25) van Potchefstroom, Sonel van der Walt (22) van Bothaville, en Thelmané Wentzel (25) van Frankfort. Hulle en die ander 13 deelnemers is uit ’n stortvloed inskrywings, sê Tarryn Josephs, woordvoerder. “Daar is ’n groot verskeidenheid – van modelle, haarstiliste en studente tot ’n eiendomsagent en onderwyseres.”

Die sanger Jo Black is vir die duur van die seisoen aan Brendan se sy en het hom gehelp met die moeilike keuse om die vroue te kies.

Josephs sê verfilming het in September verlede jaar begin en die produksiespan en deelnemers het die hele Oos-Vrystaat platgetoer, van Clarens en Golden Gate tot Fouriesburg en Bethlehem.

Rachelle Fourie (25) van Potchefstroom. Foto verskaf

Fourie, ’n onderwyseres, sê sy het ingeskryf omdat sy Brendan graag wil leer ken vir wie hy is en nie op grond van die stories wat sy oor hom gehoor het nie. Haar droomman is iemand wat weet waarheen hy op pad is.

“Iemand wat ’n aanwins tot my lewe is. Iemand saam met wie ek lekker kan lag en die lewe kan geniet. Die belangrikste is dat ek hom met my hele hart kan vertrou.”

Sonel van der Walt (22) van Bothaville. Foto verskaf

Sy het ingeskryf, want sy glo Brendan is haar trouman en sy wou hom beter leer ken, vertel Van der Walt. Wanneer sy aan ’n man dink, is dit vir haar belangrik dat hy bereid moet wees om saam kinders groot te maak. “Hy moet ook ’n groot lewenslus hê want ek hou baie daarvan om dinge te doen.”

Thelmané Wentzel (25) van Frankfort. Foto verskaf

Sy weet wie sy is en wat sy soek, vertel Wentzel, ’n student; dis waarom sy ingeskryf het. “Ek is reg om my hart oop te maak vir liefde, en ek is reg vir ’n ernstige verhouding.” Volgens haar moet ’n man dieselfde waardes as sy hê.

Op my eish! begin op 11 Januarie om 20:00 op kykNET.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.