Central SA
Vaaldriehoek: NWU-meester op gebied van arbeidsverhoudinge sterf─── ELSABÉ DE JAGER 15:10 Mon, 08 Jan 2024
“In 1983 open sy deeltydse studie sedert 1975 vir hom die deur as dosent in arbeidsverhoudinge aan die destydse Vaal-Pukke.”
Hy het nie net in sy volwasse lewe as akademikus nie, maar reeds sedert sy kinderjare diep spore getrap in die Vrystaat en die Vaaldriehoek.
Sy pa sal nie slegs as dosent en spesialis op die gebied van arbeidsverhoudinge onthou word nie, sê Marcel van Wyk, seun van prof. Christo van Wyk, wat Vrydag (5/1) in die ouderdom van 72 oorlede is.
‘Studente het aan sy lippe gehang en hom altyd vertrou’
“Hy was ook bekend vir sy integriteit en regverdigheid. Studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) het tydens lesings aan sy lippe gehang en hom altyd vertrou.
As kind, wie se skoolloopbaan van Sasolburg tot Heilbron gestrek het, speel Van Wyk rugby en is hy ook lid van die Vrystaatse Jeugkoor.
Sy loopbaan begin in 1970 as klerk by Sasol op Sasolburg. In 1983 open sy deeltydse studie sedert 1975 vir hom die deur as dosent in arbeidsverhoudinge aan die destydse Vaal-Pukke, nou die NWU se Vaaldriehoek-kampus. In 1992 verwerf hy sy doktorsgraad.
Bloedkanker is ’n maand gelede by prof. Christo van Wyk gediagnoseer. Foto verskaf
“Midde-in ’n besige loopbaan en studietydperk word hy ook tussen 1978 en 1988 drie seuns ryker,” vertel Marcel. Hy verwys grappenderwys na sy pa, ’n voorloper van die destydse tegnologie, as die eerste trotse eienaar van ’n selfoon op die Vanderbijlpark-kampus, “een so groot soos ’n baksteen”.
Van Wyk het met die jare ook dikwels tyd ingeruim vir ander belangstellings soos boogskiet en jag. Hy deel hierdie passie ook met kollegas en studente deur behulpsaam te wees met die stigting van ’n boogskietklub op die kampus.
Christo en Marietta van Wyk sou op 1 Februarie vanjaar hul 49ste huweliksherdenking gevier het. Foto verskaf
Van Wyk het deurgaans ’n onmiskenbare rol van behulpsaamheid vervul. “Hy was altyd bereid om, soos in sy loopbaan, leierskapsposte te aanvaar en bystandprojekte in die gemeenskap en skole te bestuur en hulp te verleen,” sê Marcel.
Die lewe van Van Wyk, wat oorleef word deur sy vrou, Marietta, en drie seuns, word Saterdag (13/1) om 12:00 in die NG Gemeente Vaalrivier op Vanderbijlpark gevier.
OFM Nuus/Elsabé de Jager cg/dg/mc