Central SA
Pa, seun in hof vir diefstal van skape by Hartbeesfontein─── 21:29 Tue, 26 Dec 2023

“Tydens die inhegtenisneming het die polisie ’n Nissan 1400-bakkie en ’n Toyota Conquest in die erf aangetref.”
’n Pa en seun van Alabama, Klerksdorp, het Woensdag (27/12) in die landdroshof verskyn nadat hulle na bewering vier skape in die omgewing van Hartbeesfontein gesteel het.
Lede van Klerksdorp se sigbare polisiëring het Vrydag (22/12) op ’n wenk gereageer en die twee in Uitbreiding 5 in hegtenis geneem. Hulle word aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde vee, veediefstal en die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig.
Die wetstoepassers kon die vier skape wat hulle by die verdagtes se adres gekry het positief verbind met ’n onlangse saak van veediefstal by Hartbeesfontein, sowat 30 km noordwes van Klerksdorp.
‘Die voertuie is by motorhandelaars in Klerksdorp gesteel’
Tydens die inhegtenisneming het die polisie ’n Nissan 1400-bakkie en ’n Toyota Conquest in die erf aangetref, sê Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes. Die voertuie is die afgelope maand by verskillende motorhandelaars in Klerksdorp gesteel.
Die 19- en 39-jarige verdagtes is in hegtenis geneem omdat hulle nie rekenskap van die voertuie en skape kon gee nie.
OFM Nuus mc