On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Bibi die duiker bring vreugde vir gesin ná hartseer jaar

───   KAREN VAN DER BERG 10:17 Tue, 19 Dec 2023

Bibi die duiker bring vreugde vir gesin ná hartseer jaar | News Article
Bibi en Rusty die Jack Russel. Foto: Verskaf.

“Bibi help so bietjie om van jou eie hartseer te vergeet, want sy deel absoluut net liefde uit.”

Soms plaas die Here ’n diertjie op ’n mens se pad om te versorg en te vertroetel. Bibi help so bietjie om van jou eie hartseer te vergeet, want sy deel absoluut net liefde uit – al is dit met ’n geknibbel aan my arm, want dit is haar manier van liefde gee.

Louise van der Westhuizen van die plaas Erfenis tussen Heilbron en Sasolburg vertel die duiker is as boklammetjie van min of meer twee dae oud op hul plaas gevind. Haar seun, Armand, het op die bokkie afgekom ná veldbrande op die plaas. Hulle vermoed haar ma het voor die veldbrand uitgevlug en haar daar gelos.

Bibi word nou hans grootgemaak en bly bedags in ’n kamp saam met hul skilpad. Saans slaap sy heerlik in haar eie bed in Louise en manlief Bertus se kamer langs hul Jack Russel, Rusty. En wanneer Louise saans TV kyk, kyk Bibi saam op die rusbank.

Bibi kry vir haarself blaarslaai in die yskas. Foto verskaf 

’n Video van Bibi op sosiale media het ’n sensasie veroorsaak nadat sy haarself aan blaarslaai in die yskas gehelp het.

Louise sê dit was vir hulle “’n bitter moeilike jaar”. Haar en Bertus se jongste seun, Louis, het in Maart vanjaar by Heilbron verongeluk. Bertus is die TLU SA se Vrystaatse bestuurder.

Veral nou in planttyd op die plaas voel hulle sy heengaan baie erg. Hy sou op 2 Desember 25 jaar oud geword het. “Ek dink Bibi het miskien op ons pad gekom om vir ons vrede en vreugde te bring ná die moeilike tyd.”

Bibi bly in die dag in kamp saam met hul skilpad. Foto verskaf

Louise moes by kenners hoor hoe om vir so klein bokkie te sorg. “Ek moes selfs snags opstaan om bottel te gee.” Maar nou gaan Bibi goed aan en eet lekker aan haar kos, soos slaaiblare en groente. “Sy het by ons twee kleinkinders gesien dat hulle voor die yskas gaan staan en iets soek om te eet. En dit is hoe sy dit ook nou doen.”

’n Gesin van Kimberley die Van der Westhuizens laat weet hulle het vir Bibi ’n duiker-maat van 12 weke oud. Sy naam is Dolfie. “Ons oorweeg dit om Dolfie as maat in te neem. Ons sal net hulle kampie dan vergroot.”

Intussen geniet hulle net vir Bibi en die vreugde wat sy bring.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.