On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

3 vermeende fietsdiewe in Bloemfonteinse landdroshof verwag

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 13:49 Tue, 21 Nov 2023

3 vermeende fietsdiewe in Bloemfonteinse landdroshof verwag | News Article
Twee van die drie vermeende fietsdiewe is aangekeer. Foto: Rikus Slabbert/Bloemsec Rapid Response

“Ons het twee van hulle Maandagoggend in Noordhoek aangekeer. Die derde verdagte het homself daarna aan die polisie oorgegee.”

Drie verdagtes sal na verwagting Woensdag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn weens die beweerde diefstal van drie fietse vroeër die maand in Normandielaan, Bayswater.

Rikus Slabbert van Bloemsec Rapid Response sê nadat lede van die gemeenskap aangemoedig is om die vermeende fietsdiewe te identifiseer, het iemand Bloemsec ook gekontak. Hulle het ondersoek ingestel en hul soektog na die drie verdagtes en die fietse uitgebrei.

“Ons het in samewerking met AfriForum en Navalsig-polisielede ’n operasie uitgevoer en op 9 November die een fiets opgespoor,” sê Slabbert. Sedertdien was Bloemsec op die uitkyk vir die drie verdagtes maar hulle het laag gelê. “Ons het twee van hulle Maandagoggend in Noordhoek aangekeer. Die derde verdagte het homself daarna aan die polisie oorgegee.”

OFM Nuus het vroeër berig hoe die vermeende fietsdiewe in die noorde van Bloemfontein doodluiters met hul buit straataf gestap het.

“Ons drie bergfietse is Vrydag (3/11) deur die loop van die oggend uit ons lapa gesteel. Lemmetjiesdraad bo-op die muur aan die agterkant van die erf is met ’n ‘bolt cutter’ geknip, asook die kettings waarmee die fietse aan die lapa se pale vasgesluit was,” het Christi Smal vroeër op Normandielaan, Bayswater, se WhatsApp-groep gesê.

Minder as ’n uur later het ’n hulpvaardige inwoner Gabré Kemp vier video’s op die groep gestuur. “Ek is baie bly dat die kameras kon help om die diewe vas te trek,” het Kemp gesê oor die nuus dat die drie aangekeer is.

“Diewe en mense wat hul vuilgoed oral aflaai, sal hopelik ook twee keer dink voordat hulle ons straat inkom en teiken.”


Smal is dankbaar dat een van hul fietse teruggevind is. “Ons is báie dankbaar teenoor Bloemsec wat ons op hoogte gehou het en ons ingelig het oor die vordering met die een fiets wat teruggekry is. Dit is by die Navalsig-polisiestasie en ons is ingelig dat ons dit in samewerking met Bloemsec kan gaan afhaal. Ons het nog niks van die ander twee fietse gehoor nie.

“Wat eintlik skrikwekkend was, toe ek by die polisiestasie was – die polisiemanne, en die speurder aan wie die saak toegeken is – hulle weet presies wie’s dié manne en waar hulle bly. Lyk my dis ’n geval van vanoggend is hulle in die hof en vanmiddag is hulle weer uit omdat daar net nie genoeg bewyse is nie. 


“Hulle het darem nou vir 'n slag bewyse met daardie videomateriaal wat ons gegee het. Een van die manne was juis op borgtog uit (toe die beweerde fietsdiefstal plaasgevind het) en moes ’n dag of twee ná die voorval in die hof verskyn in ’n ander saak. Dit is glo manne wat al ’n geruime tyd skade in ons area aanrig.”


Bloemfontein se inwoners sien noodgedwonge al meer na mekaar se veiligheid om deur sosiale media te gebruik. Oor die land heen staan gemeenskappe op teen die euwels van misdaad deur tegnologie in te span.

Wetstoepassingsagentskappe wêreldwyd wend hulle deesdae tot tegnologiese vooruitgang en sosiale media om misdadigers te help opspoor. Suid-Afrika is nie anders nie. Van buurtgroepe wat WhatsApp-gemeenskappe stig, tot die SAPD-misdaadintelligensie wat verdagte profiele vanaf Facebook bou, sosiale media is ’n kritieke hulpmiddel in die bekamping van misdaad.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein     Daphné


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.