On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

UV help met brandwond-operasies om agterstand uit te wis

───   TSHEHLA KOTELI 14:20 Fri, 10 Nov 2023

UV help met brandwond-operasies om agterstand uit te wis | News Article
Die span wat op die kinders in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gaan opereer. Foto: OFM News/Zenande Mpame

“Kinders brand dikwels omdat hulle warm vloeistof of kos op hulself mors. Ons sien ook gevalle waar kinders in ’n bad warm water val.”

’n Span mediese spesialiste, onder leiding van dr. Hilge du Preez en dr. Esmé le Grange het Vrydagoggend by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein vergader om vyf kinders te opereer wat brandwonde opgedoen het. Hulle name was op die waglys om geopereer te word.

Le Grange, hoof van die eenheid van pediatriese chirurgie by die Departement Chirurgie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê die kinders het die brandwonde in die winter opgedoen. Dit is 'n inisiatief van die universiteit, in samewerking met Mölnlycke, B. Braun Medical (Aesculap), en Netcare Pelonomi, wat ons bystaan met teatertyd en wondsorg vir die pasiënte.

Haar kollega Du Preez, dosent en pediatriese chirurg, het aan OFM Nuus gesê dit was een van die moeilikste brandseisoene, en sy kan nie begin spekuleer waarom hierdie jaar s'n moeiliker was as ander jare nie.

Dr. Hilge du Preez, dosent en pediatriese chirurg van die UV se Departement Chirurgie . Foto: LinkedIn

Sy sê pediatriese brandwonde is die vyfde mees algemene pediatriese besering. Baie van hierdie beserings vind plaas in lae- en middelinkomstelande. “Soms word ons gekonfronteer met ’n groot aantal van hierdie beserings sonder die nodige toerusting om hierdie pasiënte te help.” Hulle gaan die kinders help met split-dikte veloorplanting – waar hulle die vel van ’n deel van die liggaam oorplant en op die brandwond aanwend.

Sy hoop dit sal die eerste van vele suksesvolle dae wees wat hulle groepoperasies van hierdie aard sal doen. Een van die kinders is van die Universitas-hospitaal, terwyl die ander vier van die Manapo-hospitaal in Qwaqwa is. Hulle werk saam met al die openbare hospitale in die Vrystaat, maar hulle het hospitale soos Bongani-hospitaal in Welkom wat help met pasiënte wat nie geopereer sal word nie. Slegs diegene wat chirurgie benodig, word na hulle verwys.

’n Dokter wat K2 Medical verteenwoordig, sê sy is trots om deel te wees van ’n inisiatief soos hierdie. Toe sy gekontak is om te help, het sy gedink hoekom nie, want hulle sal kinders ’n tweede kans gee om ’n wonderlike vel te hê en voluit te lewe. “Ek is baie dankbaar dat hulle my die kans gegee het om deel te wees van hierdie kinders se lewe en om deel te wees van iets só vervullend.”

Dr. Esmé le Grange, hoof van die eenheid van pediatriese chirurgie by die UV se Departement Chirurgie. Foto: LinkedIn

'n Verpleegster in die brandwondeenheid by die Pelonomi-hospitaal, Matshidiso Mathobisa, sê van die pasiënte kan tot ses maande bly, afhangend van hoe erg hul beserings is. Gewoonlik is diegene wat langer bly, diegene wat in die winter brandwonde opgedoen het, en hulle sal in die somer ontslaan of geopereer word.

“Kinders brand dikwels omdat hulle warm vloeistof of kos op hulself mors. Ons sien ook gevalle waar kinders in ’n bad warm water val.” Volwassenes se ernstige brandwonde is gewoonlik weens vlamme. Dit kan wees as gevolg van huisbrande of as hulle in 'n vuur val. Paraffienstowe is verantwoordelik vir die meerderheid huisbrande in ons land. 

“Ons raai die gebruik daarvan af. In die era van beurtkrag moet ons ook bewus wees van veilige praktyke met kerse. Kerse moet nie sonder toesig gelaat word nie en moet in ’n houer wees wat ook die vlam bedek.”

OFM News/Tshehla Koteli Morné DaphnêMorné

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.