Central SA
Vrystaatse pad ná miljoene rande steeds nie voltooi─── LUCKY NKUYANE 12:50 Wed, 13 Sep 2023

“Die projek is óf deur die kontrakteur laat vaar óf die departement en kontrakteur beskou dit as afgehandel, wat nié die geval is nie.”
Die Vrystaatse Departement van Paaie en Vervoer word daarvan beskuldig dat hy miljoene rande bestee het aan ’n padprojek wat jare later steeds nie voltooi is nie.
Die departement het sedert 2019 glo bykans R300 miljoen betaal om die besige R76-pad tussen Kroonstad en Steynsrus in stand te hou, maar die pad is nou in ’n swakker toestand as ooit tevore. Die R76 verbind ook die Vrystaat met ander provinsies, insluitend Noordwes en KwaZulu-Natal.
Die R76-pad se toestand versleg by die dag. Foto: Skermgreep
’n Groot deel van die padoppervlak bestaan uit ’n grondpad, terwyl daar groot dele is waar die padoppervlak in ’n baie swak toestand is. R300 miljoen is aanvanklik vir die projek begroot, sê Armand Cloete, koukusleier van die VF Plus in die Vrystaat.
Die projek sou in September 2022 voltooi gewees het, maar die sperdatum is later tot Junie 2023 verskuif.
‘Toe ek daar kom was daar geen kontrakteur op die terrein’
“Die VF Plus het 'n besoek aan die projek gebring maar toe ek daar kom, was daar is geen kontrakteur op die terrein nie. Die projek is óf deur die kontrakteur laat vaar, óf die departement en die kontrakteur beskou dit as afgehandel, wat nié die geval is nie.
“Die pad is besig om erg te verval. Dit is 'n belangrike roete tussen Steynsrus en Kroonstad en ook ’n belangrike landbouroete wat Noordwes deur Bethlehem met KwaZulu-Natal verbind."
Volgens Cloete het die Wetgewer aangedui dat R271 miljoen reeds aan die projek bestee is. “Die departement se besteding aan hierdie onvoltooide projek is gelykstaande aan vrugtelose uitgawes.”
Die departement het nog nie gereageer op ’n versoek om kommentaar deur OFM Nuus nie.
Die vervalle R76-pad. Foto: Skermgreep
Dit is nie die eerste keer dat die departement daarvan beskuldig word dat hy miljoene rande van belastingbetalers se geld op onvoltooide padprojekte mors nie. In 2022 het Malefane Msimanga, provinsiale sekretaris van die EFF, die departement daarvan beskuldig dat 'n vooruitbetaling van R180 miljoen aan diensverskaffers gemaak is sonder dat enige werk gedoen is.
Die departement het dié bewerings ten sterkste ontken.