Central SA
Polisiemoorde in Kimberley: Hoës betoon laaste eer─── 07:30 Sun, 27 Aug 2023

Cele het vroeër gesê die inhegtenisneming van die verdagte kan ongelukkig nie die beamptes terugbring nie.
Genl. Bheki Cele, die minister van polisie, sal Sondag (27/8) in Noordwes saam met genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, hul laaste eer betoon aan een van die polisiebeamptes wat vandeesweek in Kimberley doodgeskiet is.
Wyle sers. Kedimetse Masilo word op haar tuisdorp in Noordwes begrawe. Foto verskaf
Sers. Kedimetse Masilo (45) is vroeër die week saam met konst. Okaetse Mandindi doodgeskiet terwyl hulle 'n gesteelde voertuig in Kimberley opgespoor het.
Sersant Masilo sal op haar tuisdorp, Schweizer-Reneke, begrawe word. Die begrafnis begin Sondag (27/8) om 07:00 in die Ipelegeng-saal op dié dorp in Noordwes.
Die verdagte, Daniel Wilfred Alberts (38), is in hegtenis geneem kort ná die beweerde kaping van ’n Transnet-voertuig en die noodlottige skietvoorval waartydens Masilo en Mandindi dood is.
Lirandzu Themba, woordvoerder van die polisieministerie, sê in ’n verklaring Cele en Masemola het Woensdag die naasbestaandes in Kimberley besoek.
Cele het gesê die inhegtenisneming van die verdagte kan ongelukkig nie die beamptes terugbring nie. Hy het bygevoeg dat die verdagte al talle botsings met die gereg in ander dele van die land gehad het en agter tralies moes bly.
Die verdagte is 'n bekende misdadiger wat vantevore vir ander misdade in hegtenis geneem is.
Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê Masemola het die vinnige inhegtenisning geprys.
Mojalefa Senokoatsane, die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder vir die Noord-Kaap, het gesê Alberts staan tereg op twee aanklagte van moord, drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede, een aanklag van motorvoertuigdiefstal en een aanklag van diefstal.
Alberts sal in aanhouding bly tot 5 Oktober, wanneer verwag word dat hy virtueel in die hof sal verskyn.
Wyle konst. Okaetse Mandindi. Foto verskaf
Sers. Masilo het in 2007 by die SAPD aangesluit en het 16 jaar diens gehad, terwyl konst. Mandindi sedert 2012 ’n polisiebeampte was.