On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast James
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Bosasa: Agrizzi sal ondanks swak gesondheid getuig

───   10:07 Tue, 11 Jul 2023

Bosasa: Agrizzi sal ondanks swak gesondheid getuig | News Article
Angelo Agrizzi by die Zondo-kommissie in Januarie 2019. Foto: The Citizen/Neil McCartney

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van die gelikwideerde Bosasa, se bedrogsaak word vanaf 4 Oktober 2023 in die Gautengse hooggeregshof aangehoor. Weens sy swak gesondheid sal hy die hofverrigtinge virtueel bywoon.

The Citizen berig dat hy daarvan beskuldig word dat hy betalings van meer as R800 000 namens Bosasa aan die voormalige parlementslid Vincent Smith bewillig het. In ruil daarvoor, het Smith, destydse voorsitter van die parlement se Portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste, glo sy invloed gebruik om staatskontrakte aan Bosasa toe te ken. Bosasa het onder meer maaltye aan gevangenes verskaf.  

Vincent Smith, voormalige parlementslid, wat glo Bosasa-omkoopgeld ontvang het. Foto verskaf

Smith word op sy beurt aangekla van die ontvangs van die beweerde R800 000 se omkoopgeld, wat in 2015 en 2016 deur Bosasa aan sy maatskappy, Euro Blitz 48, betaal is, berig Moneyweb. Volgens Smith was die betalings nie omkoopgeld nie, maar 'n studielening vir sy dogter.

Omkoopgeld van meer as R75 miljoen

Die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping het bevind dat Bosasa tussen 2000 en 2016 R75,7 miljoen se omkoopgeld betaal het om staatskontrakte van meer as R2 miljard te bekom.

Bosasa is in 2019 in voorlopige likwidasie geplaas.

Die staat se klagstaat teen Agrizzi en Smith toon 'n bedrag van R395 076 is in Augustus 2016 aan Smith se maatskappy betaal as "skikking van motorongeluk". Die voormalige hoof van Bosasa, wyle Gavin Watson, het glo dié bewoording voorgestel om die werklike doel van die fondse te verdoesel – naamlik om kontrakte van die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) te verseker.



DKD het vier kontrakte van meer as R1 miljard tussen 2004 en 2006 aan Bosasa toegeken.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in 2006 begin om korrupsie by Bosasa te ondersoek en in 2009 is 'n verslag uitgereik wat onder meer Agrizzi en ander Bosasa-werknemers betrek het, asook die destydse nasionale kommissaris van die DKD, Linda Mti, en die departement se destydse finansiële hoof, Patrick Gillingham.

Smith eers gekant teen Bosasa-kontrakte

Die staat se aanklag toon dat Smith bekommerd was oor die SOE-bevindinge en dat hy sy teenkanting teen die toekenning van kontrakte aan Bosasa uitgespreek het. Teen Maart 2013 het hy dit egter ondersteun en is Bosasa se kontrakte verleng.

Die DKD het voortgegaan om jaarliks kontrakte aan Bosasa toe te ken, tot Februarie 2019 toe die maatskappy om vrywillige likwidasie aansoek gedoen het.

In Augustus 2019 is Watson in 'n motorongeluk dood. In Maart vanjaar is Bosasa-likwidateurs Cloete Murray en sy seun, Thomas, naby Johannesburg in 'n vermoedelike sluipmoord doodgeskiet.

‘Omkoopgeld in kontant by koffiewinkel oorbetaal’

Agrizzi beweer omkoopgeld is maandeliks in kontant aan Smith betaal, meestal by ’n koffiewinkel in Roodepoort. Agrizzi sê hy was dikwels die een om die bondels kontant voor te berei.

Hy beweer in sy boek, Surviving the Beast – The Ugly Truths About State Capture And Why They Tried To Kill Me, dat daar twee aanslae op sy lewe was: eers in 2019 terwyl hy in die Johannesburg-gevangenis aangehou was, en daarna in die Baragwanath-hospitaal waar 'n poging glo aangewend is om hom te vergiftig. Dokters het hom 'n 30%-kans op oorlewing gegee.

Korrupsie, geldwassery, bedrog

Die staat het 'n lys van 19 getuies opgestel om teen Smith en Agrizzi te getuig op aanklagte van onder meer korrupsie, geldwassery en bedrog. Dit volg nadat die Zondo-kommissie bevind het dat Bosasa “politici, staatsamptenare, oud-president Jacob Zuma en andere omgekoop” het.

Die omkopery is swak gedokumenteer omdat die meeste van die ooreenkomste mondelings was, baie min besonderhede neergeskryf is en betalings meestal in kontant gedoen is.

Agrizzi het voorheen getuig dat hy omkoopgeld ter waarde van R50 miljoen, om “stil te bly”, van die hand gewys het. Hy hou vol hy het nooit self die omkoopgeld oorbetaal nie, maar rekord  gehou van die kontant wat aan “polities belangrike mense” betaal is.

OFM Nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.