On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Dagvaarding teen Jaco Swart uitgereik in nuwe geweldsaak

───   15:51 Wed, 14 Jun 2023

Dagvaarding teen Jaco Swart uitgereik in nuwe geweldsaak | News Article
Nicolene en Jaco Swart by die motorhandelaar waar die geweld op kamera vasgelê is.

’n Dagvaarding is teen die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart uitgereik om op 14 Augustus in die hof te verskyn op ’n nuwe aanklagte van aanranding, hierdie keer van ’n polisievrou.

Dit is egter onwaarskynlik dat hy sal verskyn omdat hy nêrens in die land gevind kan word sodat die dagvaarding aan hom beteken kan word nie, sê Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, wat ao. Sonja Albertyn verteenwoordig.

Swart het verlede jaar skuldig gepleit op die aanranding van sy vrou, Nicoleen Swart. Beeldmateriaal het toe aan die lig gekom waarin gesien kan word hoe Swart sy vrou skop, slaan en rondstamp.

Die polisie wou onlangs ’n dagvaarding aan Swart beteken in verband met ’n bedrogsaak wat in Sinoville in die noorde van Pretoria geregistreer is, maar hy kon nie opgespoor word nie en is glo in die Verenigde Koninkryk (VK). 

Jaco Swart word daarvan beskuldig dat hy ’n polisievrou aangerand het. Foto: Facebook

Die eenheid verteenwoordig ook die klaer in daardie saak. Nou word Swart daarvan aangekla dat hy Albertyn aangerand het met die doel om ernstig te beseer.

Albertyn se buurvrou het haar na bewering op 13 Januarie 2022 gevra om te help omdat haar vriend, Swart, na bewering dronk was ná ’n aand uit en geweier het om haar woonstel te verlaat. 

Swart het op ’n kol na bewering die veiligheidshek gesluit en die vrou verhinder om haar woonstel te verlaat. Albertyn het haar hand deur die veiligheidshek gedruk en Swart aangesê om nie die deur toe te maak nie. 

Ten spyte hiervan en al het hy geweet sy is ’n polisiebeampte, het hy na bewering geweld gebruik en die deur op haar arm toegeslaan en ’n sening beskadig. Albertyn het polisiebystand ontbied, en Swart het uiteindelik die eiendom verlaat.

Jaco Swart werk nou glo onwettig in Brittanje. Foto: Facebook

Albertyn het ’n strafregtelike klag teen Swart by die Brackenfell-polisiekantoor ingedien. Adv. Nicolette Bell, die Direkteur van Openbare Vervolging in die Wes-Kaap, het die nolle prosequi-sertifikaat op 26 Mei uitgereik. 

Regtens moet private vervolging binne drie maande teen ’n beskuldigde ingestel word; vandaar die dagvaarding wat op 9 Junie by Kuilsrivier se landdroshof aangevra en uitgereik is.

Die eenheid het van ’n betroubare bron verneem dat Swart Suid-Afrika verlaat het en nou in die VK woon, waar hy na bewering onwettig werk. Die eenheid se eie ondersoek en geo-ligging van foto’s wat Swart onlangs op sosiale media geplaas het, bevestig die bewering dat hy in Brittanje is.

Enigiemand met inligting presiese waar hy hom bevind, moet asseblief die inligting aan onsvervolg@afriforum.co.za stuur.

AfriForum

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.