On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Boere, wees paraat, want ‘wreedheid van plaasaanvalle neem nie af nie’

───   MORNÉ VAN ROOYEN 21:58 Tue, 23 May 2023

Boere, wees paraat, want ‘wreedheid van plaasaanvalle neem nie af nie’ | News Article
Foto: Facebook/Dirk Hermann

Veel meer moet gedoen word om plaasaanvalle en -moorde te bekamp, want al het die voorkoms van dié misdade effens gedaal, toon die wreedaardigheid daarvan geen afname nie.

Volgens AfriForum se jongste kwartaalverslag is 77 plaasaanvalle van Januarie tot Maart landwyd aangemeld en nege plaasmoorde, onderskeidelik drie en twee minder as in die eerste kwartaal van 2022. 

Gauteng se 19 voorvalle is die meeste van enige provinsie, gevolg deur tien elk in Noordwes en KwaZulu-Natal, nege in die Wes-Kaap en agt in die Vrystaat. In die Noord-Kaap is geen gevalle aangemeld nie.

‘Plaasaanvallers is ’n klomp lafaards wat snags toeslaan’

“Ons neem kennis daarvan dat meer as die helfte van plaasaanvalle op mense bo 60 is,” sê Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier. Dit wys weereens die slagoffers is veral weerlose mense, wat nie meer emosioneel of fisiek die krag het om gebuk te gaan onder sulke aanvalle nie.

Die verslag toon gewoonlik is dit twee of meer misdadigers wat saam op plase en kleinhoewes toeslaan. Van Niekerk meen dit bewys “dat dit ’n klomp lafaards is wat … in die meeste gevalle tussen middernag en drieuur die oggend, terwyl mense aan die slaap is, bereid is om te kom.”

Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, sê boere moet hulself bemagtig en beveilig teen plaasaanvalle. Foto: VF Plus

Hy sê hulle slaan toe op mense wat “niksvermoedend in die veiligheid van hulle huis veronderstel is om in ’n veilige hawe te leef. Nou word hulle in die middel van die nag deur ’n groot groep mans oorval om uiteindelik in sekere gevalle ook van niks beroof te word nie.”

Volgens hom is dit “presies die belaglikheid van hierdie plaasaanvalle, en die VF Plus kan glad nie verstaan waarom die regering regtig nie erns maak daarmee en hulleself blatant uitspreek daarteen nie, want indien dit teenoor ’n ander deel van die samelewing plaasgevind het, sou die regering beslis nie gereageer het soos hulle op hierdie stadium (reageer) nie”.

Die VF Plus meen die geringe afname in aanvalle en moorde is onder meer te danke daaraan dat boere veel meer paraat is. “Veral in die Vrystaat het boere baie meer gebruik van slimkamerastelsels,” sê Van Niekerk.

‘Dit help nie ons kritiseer die polisie en … onsself staan agter die deur nie’

“Die meeste boerderygemeenskappe in die Vrystaat is toegerus met kamerastelsels van wêreldgehalte wat ontwerp is onmiddellik alarm te maak wanneer verdagtes in die omgewing kom. Dit is uiters noodsaaklik dat boere hulleself staal teenoor hierdie tipe aanvallers.”

Hy sê boere het ’n verantwoordelikheid om hulleself paraat te maak teen enige aanvalle, “want dit help nie ons kritiseer die polisie en ons kritiseer die gemeenskap en onsself staan agter die deur nie.”

Die VF Plus doen dus ’n beroep op Vrystaatse boere om hulself “te bemagtig en te beveilig en binne die raamwerk van die wet op te tree tot so ’n mate dat jou en jou gesin se lewe beskerm word”.

Van Niekerk sê van owerheidsweë kan meer gedoen word en veel meer hulpbronne ingespan word om plaasaanvalle te bekamp en boeregemeenskappe te beveilig. “En daar kan baie meer opleiding gegee word aan polisie in plattelandse dorpe om seker te maak dat hulle toegerus is met die nodige ervaring.”

‘In baie gevalle in die Vrystaat was daar uitstekende ondersoekspeurwerk van die polisie se kant’

Dit sal hulle help sodat “wanneer daar byvoorbeeld ’n plaasaanval plaasvind, hulle die nodige inligting kan bekom, die nodige ondersoekwerk kan doen, want op hierdie stadium is dit die rede waarom baie min van hierdie plaasaanvallers uiteindelik skuldig bevind word in die hof, want die ondersoekwerk van die polisie is in baie gevalle nie na wens nie.”

Van Niekerk sê hy moet wel erkenning gee aan toegewyde wetstoepassers. “In baie gevalle in die Vrystaat (was daar) uitstekende ondersoekspeurwerk van die polisie se kant, en (dis) die uitsonderlike gevalle waar die plaasaanvallers dan ook tronk toe is, waar hulle behoorlike vonnisopleggings gekry het deur die howe.”

“Ons het nodig om goeie speurwerk te kry van die polisie se kant. Dit is hoe ons hande gevat kan word om seker te maak dat hierdie misdadigers uit ons samelewing verwyder word, selfs net tydelik.”

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.