Click on the warning image to view this post
Central SA
Hof hoor hoe Brand-gesin vermoor is─── CHARNÉ KEMP 07:32 Wed, 17 May 2023
Dinsdag was vermoeiend vir Trudie de Beer en Heidi Taljaard. Hulle het die getuienis in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor wat beskryf het hoe hul geliefde gesinslede, hul ouers, Dan en Breggie Brand, en suster, Elzabie Brand, gesterf het.
Die verdwyning en moorde op die drie gesinslede in Julie 2020 op ’n perseel buite Hartswater het die land geruk. Kruise vir hulle is ook later by die Witkruis-monument vir plaasmoorde in Limpopo opgerig.
In haar getuienis het dr. Lemaine Fouche, patoloog, bevind dat Elzabie verwurg is, terwyl Dan minstens 11 ernstige kopbeserings gehad het, wat frakture insluit, en Breggie weens verskeie traumatiese beserings aan haar kop en nek dood is. Dan het ook ’n diep verdedigingswond aan sy linkerarm gehad terwyl Breggie gebreekte ribbes gehad en deur haar keel gesteek is.
Donald Seoleseng (21) en Tshepo Visagie (36), albei van Majaneng; Kgomotso Mpulwana (43) van Rooivaal; en Tsepaone Melato (20) van Pudimoe word elk aangekla van drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling. Laasgenoemde aanklag is omdat hulle na bewering die lyke in Taung versteek het om die moord te verdoesel. Seoleseng, wat glo op die betrokke aand uit die vangwa ontsnap het maar later weer aangekeer is, word van ontsnapping aangekla. Visagie het na bewering ’n skootrekenaar en selfoon, wat aan die oorledenes behoort het, verpand.
Die Brand-gesin is volgens die staat op 26 Julie 2020 by hul kleinhoewe aangerand, ontvoer en vermoor. Hulle is die laaste keer omstreeks 12:00 by hul huis opgemerk. Die volgende dag is hulle as vermis aangemeld. Verskeie besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda 5 was vermis. Daardie nag het die polisie van die verdagtes, wat in die Mazda op die N18-roete gevind is, in hegtenis geneem. Die rooi Nissan was verlate in ’n gruisgroef ontdek. Een van die verdagtes, wat later ’n staatsgetuie geword het, het inligting verskaf. Dan en Elzabie se lyke is in die veld gevind, steeds met hul hande en voete vasgebind en met lappe bedek, en Breggie, toegedraai in ’n duvet, in ’n rotsskeur by ’n fontein.
Die lyke is na die patoloog vir ’n outopsie gebring. Dr. Fouche het getuig Elzabie se enkels was met ’n gordel vasgebind en ’n stuk tou om haar een regtergewrig vasgemaak. Sy het skaafwonde, krapmerke en kneusings aan haar kop, gesig en nek gehad, en haar oë was geswolle en potblou (wasbeer-effek). Oor haar rug, maag, gewrigte en bene was daar krap- en skaafmerke en haar linkerhand was op verskeie plekke gekneus. Sy het ook bloeding onder haar kopvel en in haar longe gehad.
Dan het steeds sy ring en goue polshorlosie aan gehad. Sy gewrigte was met rooi skoenveters vasgebind, wat drukmerke gelaat het. Op hom het ’n kous met ’n klip in gelê.
Die gapende wonde op sy linkerarm is tekenend van ’n verdedigingswond teen ’n skerp voorwerp soos ’n mes of gebreekte glas. Hare en ander materiaal wat van die stomp voorwerp afgesmeer het waarmee hy hard geslaan is, is in diep kopwonde gevind. Die skeure in sy kopvel kon van stomp geweld met ’n steen of ander stomp voorwerp wees. Die skedel het frakture gehad.
Met ernstige breinbeserings soos dié staak die hartklop en asemhaling en sterf die persoon, het Fouche getuig. Dan het minstens 11 houe aan sy kop gehad.
Sy oë was toegeswel en op sy gesig was daar etlike snye en skaafwonde. Hy het ook beserings aan sy nek, bors, arms en bene gehad.
Breggie, wat dood is weens die traumatiese beserings wat deur skerp en stomp voorwerpe veroorsaak is, se lyk is in water in ’n rotsskeur gevind. ’n Nylontou met ’n groen handdoek is deur haar mond vasgemaak en haar hande was met tou en koord vasgebind. Van haar ribbes was gebreek en sy het verskeie beserings en steekwonde aan haar kop en gesig gehad, asook ’n gapende steekwond deur haar keel. Haar oë was toegeswel en sy het breinbloeding gehad.
Taljaard sê sy en De Beer het elke dag van die verhoor tot dusver bygewoon. “Ons ouers en suster was altyd daar vir ons, nou is ons hier vir hulle. Hulle was ons alles. Ons soek antwoorde oor waarom en hoekom dit gebeur het. Families van moordslagoffers moet druk op die regering en regstelsel toepas, wat moet besef dat ons geliefdes belangrik was. Geregtigheid moet geskied en die skuldiges moet vir hul dade boet.”