On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Roerende oomblikke op Vredefort se vredevolle Kruistog

───   MORNÉ VAN ROOYEN 12:10 Sun, 09 Apr 2023

Roerende oomblikke op Vredefort se vredevolle Kruistog | News Article
Mense het selfs van Durban en Kaapstad gekom om aan Vredefort se kruistog deel te neem.

Deelnemers aan Die Kruistog op Vredefort kon op Goeie Vrydag vir ’n oomblik vergeet van al die dinge wat pla terwyl hulle die onbeskryflike atmosfeer op die 3 km lange roete saam met meer as tweeduisend medegelowiges beleef het.

“Ons het ’n besonder geseënde dag gehad,” vertel Juan Greeff, organiseerder. “Dit was regtig wonderlik gewees. Ons het so duskant 2 300 mense van heinde en ver gehad.

“Daar is mense wat vir ons vertel het hulle het van Durban af gery om hier te kom bywoon. Daar’s mense van Kaapstad af gewees. Daar’s mense van oorsee wat gekom het om vir hulle familie te kom kuier, maar hulle het dit so gereël dat hulle ook hier kon wees.”

Sowat 2 300 mense het die 3 km lange kruistog deur Vredefort se strate afgelê. Foto: Facebook

Dis vir hom verblydend dat ’n magdom mense Die Kruistog bo soveel ander moontlikhede vir die Paasnaweek verkies het. “Die feit dat mense kies om hiernatoe te ry en ’n kruis saam te bring; moeite doen om ’n kruis te maak en hom mooi te maak … dit sê net vir ’n mens daar is mense wat nog waarlik ’n passie het vir die Here en ’n passie het vir hulle geloof. Dit gee mens net soveel moed en hoop.

Greeff sê mense staar hulle dikwels blind teen die land se probleme en uitdagings. “Maar as jy dit beleef het en jy sien hierdie massa mense wat in die strate afkom, en almal is net daar vir een rede, en dis om die Here te eer en sy lof te verkondig en om dankie te sê vir die kruis, dan is dit regtig besonders.”

Langs die roete is Skrifgedeeltes aan lamppale aangebring om die stappers te begeester en die onfikses moed te gee. Foto: Facebook

Vir besoekers aan die Noord-Vrystaatse dorpie was dit “so heerlik om net [hier] te ontspan en net die vrede te beleef van die dorp self. Hulle sê dis so iets anderste om op hierdie plek te kom waar eintlik maar nie veel aangaan nie.

“Jy weet, in Vredefort op Goeie Vrydag is alles toe en alles staan doodstil, so daar is nie verkeer nie, daar is niemand wat raas nie. Dit is net hierdie wonderlike klank van hierdie duisende mense wat saamsing en die Here loof en prys.”

‘Hier is mense wat regtig ’n passie het’

Die Kruistog was ook ’n wonderlike geleentheid vir die gemeenskap van Vredefort. “As jy nou terugkyk en jy dink wat het almal gedoen, wat het almal bygedra en hoeveel ure …   

“Toe ons die oggend [voor die tyd] deur die dorp ry en ons begin sien die stasies wat opgesit word, die uitbeeldings van die gelykenisse en al die goeters en hoeveel moeite en tyd daar ingegaan het, en jy weet intussen hoeveel tyd het ons gespandeer net om die vlotte klaar te kry, dan sien jy hier is mense wat regtig ’n passie het.”

Ná die kruistog het die stappers op die sportterrein bymekaargekom om ’n kruis op die veld te vorm. Foto: Facebook

Die Kruistog het die gemeenskap nuwe waardering vir mekaar gegee en hulle nader aan mekaar gebring, vertel Greeff. “Toe hierdie ding verlede jaar begin het, het almal gewonder hoe sou dit wees, wie sou dit doen, wat sou die uiteinde daarvan wees.

“En hierdie jaar – ons is maar almal boere hier rond, ons ken mekaar as boere – toe die werk begin, en elkeen moet ietsie doen en bydra en help, toe begin ons mekaar ken as kinders van die Here.

Deelnemers het agterna gesê dis moeilik om in woorde te beskryf wat hulle ervaar het; dit moet self beleef word.

“Dan sien jy ewe skielik, jô! iemand wat jy nou maar gedink het is dalk nou nie so passievol oor enige iets nie, begin die volgende oomblik inspring en hy begin werk en begin vir jou ’n helemaal ander kant van hom wys.”

Op die staptog deur die strate kon hy self ook iets van die wonderlike atmosfeer beleef. “Ons het uitstekende mense hier in Parys, Triptiek Comp & Sound. Hulle het ons hele klank by die tent geborg en ons klank op die roete.

“Jô! Weet jy dat hierdie ou klein dorpie, waar dit stil is en waar daar nie veel gebeur nie, as daai groot speakers begin praat agterop daai bakkie, dit het die hele atmosfeer gevul.

Twee boere van Vredefort, Richann Brüssouw en Andries d’Alebout, het die lofprysing en aanbidding in die tent gelei. Foto: Videogreep

“Op ’n stadium het ek geloop en dit voel of die klank hier uit die bloekombome kom. Dit voel amper asof dit uit die lug uit kom; jy weet nie waar dit vandaan kom nie, maar die pragtigste liedere speel. Dit was alles net deel van hierdie amazing ervaring.

“Ek het soveel mense langs die pad gesien met trane in hulle oë, en hulle sê ook: Dis so wonderlik!”

Lizette Combrink, wie se pa in die distrik boer, het vir ’n fenomenale voorprogram gesorg. Foto: facebook

Nog iets wat hom sal bybly, is die groot aantal mense wat in rolstoele deelgeneem het. “Ek het gehoor agterna iewers op Facebook het hulle mense in rolstoele uitgedaag en gesê: ‘Kom, julle oues met die rolstoele, kom doen hierdie roete saam, ek daag julle uit.’

‘Sulke goeters maak ’n mens se hart sommer net warm’

“Een van ons fotograwe het langs die pad gestaan, besig om die mense af te neem wat verbykom, en ’n ou in ’n rolstoel kom stop daar en hy klim uit en hy loop met sy kunsbeen so tien treë by haar verby, net om te wys hy wil ook ’n entjie stap ter wille van Jesus, wat vir hom die kruis gedra het en die pad gestap het. Sulke goeters maak ’n mens se hart sommer net warm.

Vir party mense wat nie gewoond daaraan is om te stap nie, het die 3 km later ’n bietjie lank begin voel, vertel Greeff. “So, daar’s maar ’n paar wat begin swaar trek het. Maar hulle sê hulle raak moeg en dan kyk hulle op, en hier by die lamppaal, op elke lamppaal het ons ’n Skrif gesit.

Meer as tweeduisend mense het in die tent saamgekom vir lofprysing en aanbidding. Baie het agterna gesê hulle is bly daar was nie lang toesprake of preke nie. Foto: Facebook

“Dan sien hulle daai Skrif wat sê wat Jesus gedoen het en wat dit vir ons veroorsaak het en hoe’t Hy vir ons die pad gestap. Dan gee dit hulle sommer net weer nuwe moed en ekstra krag, en dan gaan hulle weer aan.”

Ná die staptog het almal in ’n reusetent op die sportterrein bymekaargekom waar twee plaaslike boere, Richann Brüssouw en Andries d’Alebout, die lofprysing en aanbidding gelei het. Brüssouw het spesiaal ’n lied geskryf, “Tetelestai” (“Dit is volbring”).

“Die mense is mal daaroor,” sê Greeff. “Dit gaan oor die kruistog, en dis die amptelike Kruistog-lied. En eersdaags sal hulle hom opneem en dalk vrystel.”

Lizette Combrink, wie se pa in die distrik boer, het vir die voorprogram gesorg. “Dit was regtig pragtig en sy het die mooiste liedere gesing.”

Die sportterrein was die begin- en eindpunt van die kruistog. Foto: Facebook

Greeff sê die gemeenskap van Vredefort is vuur en vlam om volgende jaar Die Kruistog te reël, as “die Here nog nie gekom het op die wolke om ons te kom haal nie”.

Die mense wat kosstalletjies gehad het, het ook reeds gesê hulle bespreek hulle plekke vir volgende jaar. “Hulle het gesê hulle het ’n geweldige klomp kos verkoop,” vertel Greeff. “Hulle het dit regtig so waardeer. Buiten die besigheid wat hulle gedoen het, is dit sommer net so ’n heerlike dag.”

Die organiseerders wil die wenresep onveranderd laat. “Van die mense het gesê hulle is so bly daar is nie lang toesprake en preke en al dié goeters nie. Dit is net ’n eenvoudige byeenkoms, en daar is niemand wat in die kollig probeer wees nie.

“Dit gaan net oor Jesus Christus. Dis al waaroor dit gaan.”

OFM Nuus / Morné van Rooyen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.