On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Anny
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Kuruman se kerke span saam vir Red ’n Plaas-Camino

───   MORNÉ VAN ROOYEN 17:32 Thu, 06 Apr 2023

Kuruman se kerke span saam vir Red ’n Plaas-Camino | News Article
Die RSG-omroeper Amore Bekker trek ook haar stapskoene aan vir die 166 km lange Red ’n Plaas-Camino.

Hoe gemaak as jou dorp ver in die Kalahari geleë is en dit te duur is om ’n sanger “in te voer” vir ’n geldinsameling vir die Noord-Kaap se boeregemeenskap? Betrek die plaaslike kerke en reël ’n lofsanggeleentheid met jul eie plaaslike talent.

Die gemeenskap van Kuruman staan bankvas agter vanjaar se RSG Red ’n Plaas-Camino van 14 tot 22 April waartydens meer as honderd deelnemers die 166 km van Williston na Verneukpan gaan stap.

“Ons is rêrig in hart en siel betrokke by hierdie Camino,” vertel Petro Spangenberg, wat help reël aan Kuruman se Lofsangfees op 21 April om  geld vir die Camino in te samel.

Van die bekendes wat saamstap, is die aktrise Lindie Stander, sangers Jak de Priester en Elvis Blue en RSG-omroeper Amore Bekker. Elke stapper word per kilometer geborg ten bate van Noord-Kaapse boerderygemeenskappe wat steeds noustrop trek ná ’n jare lange droogte.

Die Bloemfonteinse skrywer Johannes de Villiers, saam met Petro Spangenberg, het die VLV op Kuruman toegespreek, waarna hulle besluit het om sy deelname aan die Red ’n Plaas-Camino te borg.

Die idee van die Lofsangaand op Kuruman het laat verlede jaar ontstaan toe Spangenberg, ’n kerkraadslid van die NG Moedergemeente, saam met hulle predikant, ds. Dirkie van Heerden, mense in haar wyk besoek het.

“Hulle sê toe hulle wil ’n bedrag skenk om ’n gospelsanger Kuruman toe te bring vir ’n geldinsameling,” vertel Spangenberg, “maar die geldsinsamelingsprojekte was toe al klaar gereël vir daardie jaar. Ons het dit toe laat oorstaan vir hierdie jaar.”

Maar vanjaar het sy, ds. Van Heerden en Lisma Botha, die NG Gemeente Kuruman-Die Oog se orreliste, besef hulle kan nie rêrig ’n gospelsanger “invoer” vir die bedrag wat die mense gegee het nie.

In 2021 is ’n Boesmanlandse Camino gehou vir die Red ’n Plaas-projek.

“Ons het toe koppe bymekaargesit en gedink: Daar is soveel talentvolle mense op Kuruman. Kom ons maak dit ’n ekumeniese geleentheid waar al die kerke een aand saam optree en elkeen hul musikante en sangers gee.

“Ons moes net ’n datum kry wat geskik is, want as dit nie basaar is van die een nie, dan’s dit die basaar van die ander een. So het ons toe nou op 21 April besluit. En die ding het net geloop van daar af.”

Petro Spangenberg en ds. Dirkie van Heerden van die NG Moedergemeente Kuruman het die Lofsangaand saam met Lisma Botha, orreliste van die NG Gemeente Kuruman-Die Oog, gereël.

Die kerke van Kuruman het gelukkig reeds ’n mooi geskiedenis van samewerking. “Ons hou elke jaar die gemeenskapsbasaar vir die ouetehuis, Mimosahof, waartydens die hele kerklike gemeenskap en verenigings, soos die VLV en die ACVV, saamwerk.

“Elke jaar kry ’n ander kerk ’n beurt om dit te reël. Dis ’n wonderlike samewerkingsgeleentheid. Dit gee my elke jaar ’n warm hartsgevoel om die hartlikheid en vrygewigheid eerstehands te beleef.”

Die blydskapskrywer Johannes de Villiers van Bloemfontein sorg dat die meer as honderd stappers heelpad blymoedig bly.

Sy het met die nabetragtingsvergadering van die basaar vir almal om die tafel gesê wat sy beoog. Daar was verteenwoordigers van die drie Susterkerke, die AGS se twee gemeentes, die AP Kerk asook die Bikers’ Church.

“So dis ’n lekker hand vol mense en ons werk almal baie lekker saam. Daar het ek dit vlerke gegee en daardie dag het ek ons advertensie uitgestuur.”

Spangenberg vertel die Red ’n Plaas-Camino lê hul hele streek besonder na aan die hart, want hulle almal is op ’n manier by boerdery betrokke. “Ekself is ’n boer se vrou en ’n boervrou.”

Die stappers lê van 11 tot 22 April sowat 166 km af tussen Williston en Verneukpan, ook in die Noord-Kaap.

Ná die jare lange droogte het dit wel twee jaar lank goed gereën. “Maar die skulde het opgehoop en die koöperasierekenings is maar nog baie hoog.

“As dit so baie droog was, is die eerste iemand wat uit die skool gehaal word of nie meer koshuis toe kan gaan nie, die boere se kinders vir wie hulle nie daardie verblyf kan betaal nie, veral die universiteitstudente.

“Dis hartseer om sulke goed te hoor. Dis dan nou waarvoor die geld ook aangewend word.”  

Die RSG-omroeper Amore Bekker stap saam met nog bekendes soos Lindi van Niekerk en die sangers Jak de Priester en Elvis Blue.

Kuruman se Moedergemeente borg Hanelie van Tonder. Haar man, ds. Kobus van Tonder, van die NG Gemeente Vanzylsrus, het enkele jare gelede gereeld op RSG oor die droogte gepraat. Hy gaan saam Karoo toe om haar by te staan.

“Dis hoe ons vanjaar betrokke geraak het by die Camino: omdat ons tasbaar vir Hanelie daar het. Al my geld is op haar!” vertel Spangenberg.

Ds. Van Tonder is voorsitter van die taakspan vir gemeenskapsversorging van die NG Kerk in Noord-Kaapland, wat tydens die droogte in samewerking met onder meer Agri Noord-Kaap met droogtehulp en die projek Red ’n Plaas begin het.

‘Hy gaan lekker stap en almal inspireer om heeltyd met ’n glimlag te stap’

Spangenberg skerts sy kon nie juis anders as om self ook met die insameling te help nie. “Uit die aard van die saak, op die platteland raak jy maar betrokke by alles. Voor jy jou kan keer, is jy kniediep saam in die verdrukking!”

Kuruman se VLV en die plaaslike kankerfonds het besluit om die Bloemfonteinse blydskapsnavorser Johannes de Villiers se staptog te borg nadat hy op 23 Maart op die VLV-konferensie opgetree het.

“Hy is natuurlik ’n wonderlike spreker,” vertel Spangenberg. “Ons weet hy gaan lekker stap en almal inspireer om heeltyd met ’n glimlag te stap en nie oor pyn te kla nie.”

OFM Nuus/Morné van Rooyen

  

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.