On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Diereskuiling in Noordwes ervaar verskeie uitdagings – VIDEO'S

───   KEKELETSO MOSEBETSI 13:18 Fri, 10 Mar 2023

Diereskuiling in Noordwes ervaar verskeie uitdagings – VIDEO'S | News Article
FOTO'S EN VIDEO'S: Lucky Nkuyane en Kekeletso Mosebetsi

’n Diereskuiling in Noordwes sukkel om die veiligheid van hul diere te verseker en om met daaglikse bedryfsuitgawes tred te hou.

Die stigter Charmaine Parker, wat beskryf word as 'n baie toegewyde diereliefhebber, het die behoefte aan 'n diereskuiling in Orkney geïdentifiseer, wat al meer as 'n dekade aan die gang is. 

In Januarie 2020 is die Orkney-diereskuiling egter deur die DBV in Klerksdorp genader om weens 'n geldtekort die perseel van die DBV oor te neem. Die ooreenkoms het bepaal dat hulle die skutdienste namens die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit moes oorneem. Die werklading van die Orkney en Klerksdorp se Diereskuiling (O&KAS) het sodoende met meer as 60% toegeneem.

Die voorsitter van die skuiling, Uwe Tietz, het aan OFM-nuus gesê die skuiling ervaar finansiële uitdagings en benodig borge om die diens te kan voortsit. Die skuiling ontvang soms kosskenkings vir diere, maar moet dit uit hul begroting aankoop as die borge se skenkings nie genoeg is nie. Die skuiling sukkel ook met misdadigers wat by die skuiling inbreek en honde en kabels steel. Tietz sê hulle het minstens een miljoen per jaar nodig om die skuiling te bestuur en te beveilig. Tot dusver sukkel hulle om hierdie bedrae in te samel.

"Ons befondsing word hoofsaaklik deur privaatindividue ingesamel, wat ongeveer 95% van die fondse uitmaak wat ons ontvang. *Ons het die munisipaliteit se hulp gevra, wat vir ons vir die volgende drie jaar 'n jaarlikse toekenning, of 'n eenmalige bedrag van R50 000 per jaar gee.* In perspektief geplaas – ons jaarlikse bedryfkoste is sowat 'n miljoen rand, so R50 000 van 'n miljoen, ek bedoel jy kan dit self uitwerk. Ongelukkig het raadslede ons ingelig dat die munisipaliteit in hierdie stadium nie enigsins in die posisie is om te help nie,” het hy gesê.

Tietz het verder onthul dat die skuiling ook sukkel om toerusting soos kameras vir sekuriteit te finansier om onder meer die diefstal van honde te voorkom. Meer personeel is ook nodig aangesien hulle honde en katte van oral oor ontvang – van dorpe en townships by Orkney en Klerksdorp tot sommige dorpe in dele van die Vrystaat. Die skuiling benodig ook voertuie om diere te gaan oplaai, aangesien die bestaande voertuie nie in 'n goeie toestand is nie.

OFM-nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.