On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Nehawu-staking: Babas ly honger, pasiënte kry nie medikasie

───   SUZANNE VENTER 05:30 Thu, 09 Mar 2023

Nehawu-staking: Babas ly honger, pasiënte kry nie medikasie | News Article
'n Nehawu-protesteerder word by Pelonomi-hospitaal deur die polisie weggeneem. FOTO: Skermgreep/Facebook

Medici van drie hospitale in Bloemfontein sê staatspasiënte se lewens is in gevaar weens die landwye Nehawu-staking waaraan verpleegpersoneel deelneem.

Medici van die Pelonomi-, die Nasionale Distrik- en die Universitas- Akademiese hospitale, wat op voorwaarde van anonimiteit met OFM-nuus gepraat het, sê verpleegsters speel ’n lewensbelangrike rol in die behandeling en versorging van pasiënte. Sonder hulle heers daar chaos in hospitale.

“Pasiënte dwaal rond en daar is niemand om die belangrikste lewenstekens soos polsslag, bloeddruk en liggaamstemperatuur te neem nie. Dit maak dit vir dokters moeilik om te bepaal of iemand sieker word of dalk in gevaar verkeer.

“Pasiënte kry ook nie medikasie of kos nie. Wonde word nie skoongemaak nie en verbande nie geruil nie. Beddegoed is vuil. Doeke word nie geruil nie.”

Die dokters sê veral kinders en ander hulpelose pasiënte wat bedlêend is, ly hieronder omdat daar geen personeel is om hulle skoon te maak of op te pas nie. Babas wat formulemelk moet kry, ly honger. Naasbestaandes van pasiënte kom help met versorging, maar nie almal kan dit doen nie.

“Dis geweldig traumaties vir die pasiënte en vir ons,” het een van die dokters gesê. “Almal is bang, en ons dokters en verpleegsters wat wel werk toe gaan, word geïntimideer en gedreig en vrees vir hul lewe. Hulle dra gewone klere sodat hulle nie uitgeken kan word nie, en ons dokters moet alternatiewe parkering kry omdat dit te gevaarlik is om by die hospitale te parkeer.”

Trauma-eenhede het gewoonlik slegs een dokter aan diens, wat bygestaan word deur verpleegpersoneel, maar nou is die dokter alleen verantwoordelik om hordes mense te hanteer wat met ernstige beserings en gesondheidsprobleme by die hospitaal opdaag.

Die staking het ook ’n invloed op klinieke. Heidedal se gemeenskapsentrum en kliniek in Bloemfontein is weens oproerige stakers gesluit. Dit lei op sy beurt tot lang rye mense wat hulp soek by ander klinieke.

Kliniekpersoneel is bekommerd dat wagtende pasiënte ook in opstand kan kom en laat hulle daarom liewer buite wag, wat glad nie ideaal is nie.

“Ambulansdienste is tans ook nie beskikbaar nie omdat ambulansbestuurders te bang is om dit naby hospitale te waag.”

OFM-nuus/Suzanne Venter

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.