On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Karnaval-koors loop hoog vir Bloemskou 2025

───   07:02 Fri, 25 Apr 2025

Sponsored07:02 Fri, 25 Apr 2025
Karnaval-koors loop hoog vir Bloemskou 2025  | News Article
Foto: Bloemskou Facebook

Die gewilde Bloemskou begin vandag amptelik in Bloemfontein met ’n spoggerige program van aktiwiteite wat oor nege dae strek. Vanjaar se tema, “Karnaval!”, beloof hope opwinding en kleurvolle vermaak vir besoekers van regoor die land.

Die Bloemskou, wat in 1883 gestig is, vier vanjaar sy 142ste bestaansjaar en bly uniek in Suid-Afrika as die enigste skou wat landbou-, kommersiële- én vermaak-aktiwiteite op só ’n grootskaalse manier kombineer. Verlede jaar het meer as 126 000 mense die skou bygewoon.

Rondom 350 uitstallers neem vanjaar deel, versprei oor vier tematiese sale, met produkte wat wissel van huisdekor en klere tot tegnologie, buitelewe en gesonde leefstyl. ’n Nuwe toevoeging is Checkers se spesiale fokus-saal en ’n “Balans”-saal met sowat 20 uitstallers vir gesonde leefstylprodukte.


Die Pretpark bly ’n gewilde trekpleister met 36 ritte, insluitend ses splinternuwe ervarings. Vanjaar se hoogtepunt is die “Middernag Malligheid” op 30 April – ’n eksklusiewe geleentheid vir 750 volwassenes om vanaf 22:00 tot middernag onbeperkte toegang tot ritte te geniet.

Meer as 20 plaaslike en nasionale kunstenaars verskyn op die verhoog, onder meer Bok van Blerk, Bernice West, Posduif, Ricus Nel, Riaan Benade en Appel. Kunstenaarsvermaak is by jou toegangkaartjie ingesluit – ’n unieke aanbod vir ’n bekostigbare prys.

Ander hoogtepunte sluit in:

  • Die wêreld se grootste opelug-Saalperdskou (reeds aan die gang vanaf 21 April) met sowat 900 perde.
  • Die Toyota Veeplaas Jong Afslaers streekskampioenskap.
  • Die Elite Bulgroeitoetsklas van Vleissentraal-SA Stamboek met 18 beesrasse.
  • Die gewilde “OVK Back to Back”-wolverwerking demonstrasie.
  • Kreatiewe kuns en handwerk met meer as 2 700 inskrywings, waarvan 1 000 kunswerke is.
  • Interprovinsiale Hoefsmid-kampioenskap.
  • Skaapskeer- en skaaphondevertonings, liggaamsbou-, armdruk- en sterkmankompetisies, dansvertonings, en selfs valskermspringers en spinning-wedrenne.

Bloemskou het ook ’n hart vir die gemeenskap: Op Donderdag (24/4) het 410 kinders van ENGO en Club X Society gratis toegang tot die pretpark gekry as deel van die “Joy for Charity”-projek. Hulle is bederf met etes, lekkernye en hope pret.


Gratis WiFi is beskikbaar vir alle besoekers, asook QR-kodes vir maklike navigasie op die skouterrein. Besoekers word aangemoedig om hul programgids by die hek te kry – solank voorraad hou.

Bloemskou duur tot 3 Mei 2025. Besoek www.bloemskou.co.za vir volledige inligting en om laaste-oomblik afslag op pretparkkaartjies tot 24 April 17:00 via Computicket te bekom.

Moenie dié karnaval misloop nie – Bloemskou 2025 wag op jou!

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.