Central SA
NWU waarsku teen vals kennisgewing oor toelatings─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:19 Thu, 24 Apr 2025

Die Noordwes-Universiteit (NWU) rig ’n dringende waarskuwing aan voornemende studente en hul ouers oor ’n bedrieglike kennisgewing wat aanlyn versprei word rakende aansoeke en toelatings vir 2025 en 2026.
In die nagemaakte dokument, wat lyk na amptelike NWU-kommunikasie, word beweer dat slegs die eerste 20 aansoekers wat aan sekere kriteria voldoen, aanvaar sal word, en word ’n vooruitbetaling van R1 000 vir aanvaarding geëis.
Die kennisgewing bevat ook ’n WhatsApp-nommer en ’n e-posadres waar aansoekers kwansuis hulp kan kry.
‘Alle aansoek- en registrasieprosesse word aanlyn deur NWU-kanale uitgevoer’
Die universiteit verwerp die dokument as “fopnuus” en beklemtoon dat die NWU geen geld hef vir toelating of registrasie nie. Voorts maak die instansie dit duidelik dat hy geen derdeparty-agente of individue betrek om die aansoeke of registrasie namens hom te hanteer nie.
“Dit is ’n vriendelike herinnering aan alle studente en ouers: NWU-personeel sal nooit geld vra vir toelating of registrasie nie,” waarsku die universiteit. “Alle aansoek- en registrasieprosesse word aanlyn deur amptelike NWU-kanale uitgevoer.”
Die universiteit waarsku ook teen individue wat aanbied om koshuisplasing teen betaling te verseker.
Bly wakker
“Slegs die NWU-toelatingskantoor is gemagtig om te help met aansoekaanvaarding en registrasie. Studente word aangeraai om slegs amptelike NWU-bankrekeninge te gebruik en om enige fakture of finansiële versoeke wat hulle mag ontvang, te verifier,” sê hy.
Enigiemand wat verdagte aktiwiteite teëkom of twyfelagtige boodskappe of dokumente ontvang, moet dit sonder verwyl om rapporteer by report-fraud@nwu.ac.za te rapporteer. Bykomende veiligheidswenke en amptelike inligting kan hier gevind word.
“Ons doen ’n beroep op die NWU-gemeenskap en voornemende studente om wakker te bly en nie die slagoffer van swendelary te word nie,” sê die instelling.
OFM Nuus mvh