On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

'Ramaphosa moet moontlikheid van energie-ramptoestand uiteensit'

───   16:03 Thu, 09 Feb 2023

'Ramaphosa moet moontlikheid van energie-ramptoestand uiteensit' | News Article

Die politieke wetenskaplike professor Amanda Gouws sê president Cyril Ramaphosa moet uiteensit wat die verklaring van 'n ramptoestand oor die energiekrisis sou behels.

Ramaphosa het te kenne gegee dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee ten gunste daarvan is om die beurtkrag-situasie as 'n ramptoestand te verklaar om sodoende finansiering beskikbaar te stel om die kwessie op te los.

President Ramaphosa gaan Donderdagaand die staatsrede by die Kaapstadse stadsaal lewer.

Gouws, verbonde aan die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch, sê meer fokus moet op volhoubare en groen energie geplaas word.

“Wat ons tans nodig het, is volhoubare energie, groen energie. Nie hierdie absolute fokus op steenkool nie. Ek dink dit is hoekom die president se hande vasgebind is, omdat hy met (Minister van Minerale Hulpbronne en Energie) Gwede Mantashe verskil oor die steenkoolkwessie.

“Mantashe is baie gefokus daarop om steenkool te verbrand as 'n vorm van energie en ons kan nie oornag daarmee wegdoen nie, maar die punt is ons moet die private sektor betrokke kry.

“Ons het nog vyf verskillende tipes energie nodig en ek is nie seker dat die ontbondeling van Eskom eintlik ’n groot verskil gaan maak nie. Dinge het aanbeweeg en ons moet na ander oplossings kyk.”

Gouws sê Ramaphosa moet soos 'n staatsman optree deur ferm oplossings te bied vir die krisisse wat die land raak.

“Hy moet ’n baie ferm standpunt inneem, en ’n mens wonder ook hoekom hy nie regtig ’n nuwe kabinet aangekondig het nie? Hy het die perfekte geleentheid gehad toe hulle as wenners uit die (ANC) elektiewe konferensie gekom het.”

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.