Central SA
Agt in Vrystaat vas oor slag, diefstal van 88 skape─── 16:53 Tue, 03 Jan 2023

Die Vrystaatse polisie het agt verdagtes in die Reitz-omgewing in hegtenis geneem nadat hulle op heterdaad betrap is terwyl hulle vermoedelik gesteelde skape geslag het.
Die polisiewoordvoerder, Mmako Mophiring, sê in 'n verklaring dat die verdagtes op Vrydag, 30 Desember 2022 vasgetrek is nadat polisiebeamptes 'n oproep ontvang het oor 'n beweerde diefstal van skape wat op 'n plaas aan die gang was.
Die verdagtes is in besit van 48 geslagte en 40 lewende skape gevind.
“Die gemeenskapsdienssentrum het polisiebeamptes van Petrus Steyn se hulp ingeroep wat daarin kon slaag om verdagtes met bebloede klere aan op te spoor. Altesame 48 geslagte en 40 lewendige skape is daarna in die veld gevind,” sê Mophiring.
"’n Plaaslike boer het bevestig dat 88 van sy skape gesteel is en dat die skape inderdaad syne is. Die polisie het agt verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op vyf voertuie, waaronder drie sedans en twee bakkies."
Die agt verdagtes is tussen 27 en 46 jaar oud en sal na verwagting in die Reitz-landdroshof verskyn op aanklag van veediefstal.