Central SA
Vandag in die Nuus: 9 Oktober 2022─── 13:06 Sun, 09 Oct 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 9 Oktober 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Die veldbrand wat infrastruktuur en weiding tussen Daniëlskuil en Kuruman in die Noord-Kaap verwoes het, woed steeds voort.
Jan Joubert, voorsitter van Agri-Kuruman, vertel dat die weerlig 04:00 Woensdagoggend die veld tussen Kuruman en Daniëlskuil aan die brand geslaan het.
Hy deel dat die wind brandbestryding bemoeilik en dat brandbestrydingspanne nog hard besig is om die brand te blus.
Willie Aucamp van die DA in die Noord-Kaap, het intussen ’n dringende beroep op die provinsiale regering gedoen om brandbestrydingsinisiatiewe in die Kalahari-streek met vliegtuie en helikopters te ondersteun.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het 'n grootskaalse soektog na vier verdagtes in die Noord-Kaap begin nadat hulle tussen Kuruman en Kathu vanuit aanhouding ontsnap het.
Die polisie sê die verdagtes het vanuit 'n polisievangwa ontsnap tydens 'n oorplasing van Kathu na die gevangenis in Kuruman.
Die verdagtes is aanvanklik in hegtenis geneem vir hulle beweerde betrokkenheid by 'n sakeroof in Olifantshoek vroeër vanjaar.
Polisiewoordvoerder, Olebogeng Tawana, sê intussen die verdagtes is gevaarlik en moet nie deur die publiek genader word nie, maar dat die polisie in kennis gestel moet word.
'n Ondersoek oor presies hoe die verdagtes vanuit aanhouding ontsnap het, is ook gelas.
Die vervoerwerkersvakbond Satawu sê hy het strategiese plekke geïdentifiseer waar betogings vanaf môre gaan plaasvind.
Die vakbond dreig om alle Transnet-dienste tot stilstand te dwing. Satawu begin môre staak, nadat nog ‘n vervoervakbond Untu reeds Donderdag met hulle staking begin het.
Volgens die SAUK eis Satawu ‘n verhoging van 12 tot 13%, terwyl Transnet sy aanbod tot 3% verhoog het.
Eskom doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om te help om krag te bespaar aangesien sy kragstelsel weer onder erge druk verkeer.
Die kragvoorsiener het gister vir die eerste keer in meer as 'n maand kragonderbrekings opgeskort.
eNCA sê Suid-Afrikaners het vroeër vanjaar, gedurende die kouer maande in Mei en Julie, lang tye van beurtkrag ervaar, maar nooit tot die omvang van die mees onlangse tydperk nie.
Eskom sal Suid-Afrika vanmiddag van sy kragstelsel inlig indien daar enige veranderinge is.
LUISTER: