Arts
’n Viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar met sopraan, klavier─── 10:00 Tue, 22 Apr 2025

Teresa de Wit en Lesley-Ann Matthews is vir die vyfde keer saam op die verhoog in hul reeks “Most beautiful songs” en vanjaar is dit met die “Mooiste Afrikaanse liedere” om Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal te vier.
Teresa de Wit sluit by Yolanda Maartens aan in die OFM Kunsteklop om te gesels oor die besonderse viering.
Liedere waarna die gehoor kan uitsien is onder meer van Laurika Rauch, Stephanus le Roux, Koos du Plessis, Pieter de Villiers en Koos Kombuis.
Met Lesley-Ann Matthews se stem en Teresa de Wit op klavier, gee die twee lewe aan die mooiste Afrikaanse liedere – die perfekte viering van die taal en alles wat dit vir haar mense beteken.
Teresa de Wit (mezzosopraan) het in 2000 die UNISA Performers Lisensiaat met lof verwerf en haar opera-opleiding begin as lid van die Kaapstad Opera Studio, sowel as lid van Mimi Coertse se Black Tie Ensemble.
Sy tree gereeld op in operas, konserte en oratoria in verskeie teaters en konsertsale in Suid-Afrika.
Sy het ’n BMus, BMus Hons en ’n MMus (alles cum laude) aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en doen werk vir die Kimberley Musiekakademie. Sy is ook ’n sangdosent by die Odeion Skool vir Musiek.
Lesley-Ann Mathews het ’n BMus-graad in klavieruitvoering verwerf. Hier het sy as herhaler vir operaproduksies opgetree en was die ontvanger van verskeie beurse. Sy het in 2005 ’n MMus in kamermusiek onder leiding van Albie van Schalkwyk aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en is in dieselfde jaar as begeleier aan die UV aangestel.
PROGRAM:
Pieter de Villiers (1924 – 2015): 7 Boerneef-liedjies
Arnold van Wyk (1916 – 1983): “Van Liefde en Verlatenheid” of vier weemoedige liedere
Stephanus le Roux Marais (1896 – 1979): “Heimwee”, “Mali, die slaaf se lied”, “Eenmaal”, “Gebedjie”, “As ek moet sterwe, my liefste” en “Rooidag”.
Petrus Johannes Lemmer (1896 – 1989): “My siel is siek van heimwee” (viool)
Gideon Fagan (1904 – 1980): “Klein Sonneskyn”, “Wys my die plek”
Jan Bouws (1902 – 1978): “Op my ou Ramkiekie”
Keur van Afrikaanse liedjies; e.g. “Kinders van die wind”, “Skadu’s teen die muur” (Koos du Plessis), “Lisa se Klavier” (Koos Kombuis), “Die Gang” (C. Torr), en “Toemaar die donker man” (Laurika Rauch)
Die Odeion in Bloemfontein is gasheer vir dié viering op 8 Mei.
OFM cg