Arts
Nataniël se ‘Cake Topper’ neem Bloemfontein-gehore na volgende vlak─── KAYLA BARKER 09:00 Tue, 11 Feb 2025
Nataniël gesels met Yolanda Maartens in die OFM Kunsteklop oor sy nuutste produksie, “Cake Topper”, asook sy liefde vir Bloemfontein se Sand du Plessis-teater.
Oorspronklike musiek, nuwe verwerkings van bekende melodieë, briljante musikante, aangrypende stories, hope humor en skouspelagtige ontwerpe – net ‘n paar aspekte van wat jy kan verwag van Nataniël se nuutste produksie “Cake Topper”.
Duiweltjies op die hoeke van ’n eeue-oue katedraal, talle kunswerke wat dieselfde een-oog wese uitbeeld, die kosbare septer van ’n koningshuis, die herkenbare logo van ’n geliefde bakkery, die spesifieke vorm van ’n stopteken, is hierdie net die fantasieë van ’n paar ontwerpers of is dit die simbole van ons lewens en geskiedenis? Is daar betekenis en geheime?
Dit en meer word verwag in “Cake Topper” wat fokus op dit wat ons as mense vir mekaar sê.
“Ek het met ‘Cake Topper’ gegaan want dit wat op ’n koek is, sê jou waaroor gaan die party,” sê Nataniël oor sy teaterstuk.
Nataniël deel die verhoog met Charl du Plessis (klavier en klawerbord), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (bas) en Peter Auret (tromme). Die kostuums is ontwerp en gemaak deur Floris Louw.
“Cake Topper”, die nuutste vertoning deur Nataniël, is op 5 en 6 Maart by die Sand du Plessis-teater te sien.
Geen kinders onder 13, geen selfone, geen kortbroeke (dis ’n teater), geen drank of verversings in ouditorium toegelaat, 90 minute – geen pouse.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets.
OFM cg