Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── 05:30 Thu, 12 Nov 2020
Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.
Sien onderstaande PODCAST
Laubscher gesels vandeesweek oor bestuur onder uitsonderlike onsekerheid na aanleiding van die Covid-19-pandemie. Hy sê noudat die pandemie sy verloop geneem het en “elke faset van ons lewe en werk letterlik op sy kop gekeer het, behoort 'n mens te kan terugstaan om te probeer bepaal wat geleer is of kan word”. Hy sê die omvang van die impak van die pandemie is nog lank nie bepaalbaar nie. Dit, aangesien dit op ‘n daaglikse basis ander dimensies aanneem. Volgens Laubscher, namate die pandemie sy hand wys, word daar aanpassings gedoen en dit opsigself verander die gang daarvan. Hy sê dit toon belangrike ooreenkomste met waarmee ‘n boer normaalweg gekonfronteer word. ‘n Onlangse artikel deur die bekende McKisey & Co: “When nothing is normal: Managing in extreme uncertainty”, wys op belangrike parallelle.
“Die skrywers wys kennelik op hoe besighede normaalweg beplan en hoe faktore wat ‘n impak kan hê op die uitkoms van sulke planne, verreken word. Veranderings word vervolgens voorsien, geïdentifiseer en waar nodig en moontlik, verreken by wyse van verstellings aan die aanvanklike strategie. Daar is ook gevalle bekend waar geaffekteerde besighede – groot en magtige korporatiewe instellings – vanweë hulle belang in die mark, die gang van sake kan dikteer en by geleentheid selfs die gang van sake kan verander om hulle meer ter wille te wees.
“Covid-19 het hierdie konvensies onomkeerbaar verander om dit lig te stel – die regte woord is eintlik uitmekaar geruk. Normale voorspellingsmodelle het geblyk stoom te verloor in terme van betroubare voorspellings namate nuwe inligting beskikbaar geraak het. Dit het selfs lande onkant gevang in terme van die bestuur van die koers van besmetting.
“Aannames onderlê modellering en namate aannames verander, hetsy gedwonge of as gevolg van verbeterde begrip van die probleem, moet vinniger gehandel kan word met wat beskikbaar raak. Daar is al in hierdie rubriek verwys van verbeterde strategiese vlugvoetigheid en daarvoor is dit nodig dat die bestuur van ondernemings in staat moet wees om in spanverband te kan optree.
“Die Springbokke het as span die Wêreldbeker gewen – nie net deur die twee agterspelers wat oor die doellyn gekom het nie. McKinsey&Co waarsku vervolgens dat tensy gevolg gegee word aan die vermyding van ooglopende foute, baie besighede reeds hulle deure moes sluit en baie ander dit ook nie sal vryspring nie. Die foute is sydige optimisme waar die waarheid gerieflikheidshalwe misgekyk word, soos om die draai in die finansiële toestand van ‘n besigheid te vervroeg sonder om effektief genoeg gevolg te gee aan die onderliggende drywers van die verandering en om dan agterna baie energie te verspil deur ‘n saak uit te maak hoekom planne nie vinnig genoeg gewerk het nie.
“Tweedens ignoreer bestuur die onstabiliteit van inligting. Dit het Covid-19 ons almal geleer en die wêreld se grootste ekonomie het dalk ook daaronder gelei omdat die politieke leier al daar die feit misgekyk het. Belangrike inligting/data is verloor of om redes wat agterna nagevors kan word, geïgnoreer en gevolglik is voor-die-handliggende oplossings eenvoudig misgekyk. Dit gee aanleiding tot verkeerde antwoorde wat weer kan lei tot analitiese verlamming.
“Belangrike besluitneming word eenvoudig vertraag om die regte antwoord te kry, ensovoorts. Kortom, die pandemie het die saakmakende besighede geleer hoe om te spring vanaf ‘n bewegende klip en nie om te wag tot daar vaste grond onder hul voete was nie. Waar pas die plaas dan in?” vra Laubscher.
Luidens hom is boerderye bekend met sulke onsekerhede en om ‘n lys daarvan te maak, is maklik.
“Trouens dit is so deel van die DNA van besluitneming op ‘n plaas dat dit eintlik onkonvensioneel is om daarna te vra. Planne is in plek soos nou met die begin van die plantseisoen of die dekseisoen, maar daar is ‘n klomp faktore wat dopgehou moet word alvorens die trekker aangesit word en met opdrag, plant.
“Namate die plantproses sy loop neem, is dit nodig om nog steeds faktore van belang te verreken. Die een boer sal bly plant dat die stof staan, terwyl sy buurman besluit om eers op te hou totdat daar meer sekerheid is oor die reën, ensovoorts. Al die besluitneming gebeur onder uitsonderlike onseker omstandighede en daar is baie bewyse van hoe strategies fiks ons boere is.
“Watter lesse is te leer? Eerstens behoort daar groter waardering te wees vir wat dit verg om kos op die tafel te kry, maar boere wat al kampioene is om ondanks onsekerheid te presteer, behoort dalk ook meer geduld te hê vir besighede waarmee hulle sake doen se stryd om te doen wat hulle al verstaan,” sluit Laubscher af.
OFM-nuus