Agri Hour
Werksgeleenthede kan in landbou geskep word - ekonoom─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:18 Thu, 01 Oct 2020
Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers is 23,3%, wat aansienlik laer is as die eerste kwartaal se koers van 30,1%.
Dié syfer is Dinsdag deur Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) in sy kwartaallikse arbeidsmagpeiling vir die tweede kwartaal bekendgemaak. Werkverskaffing het in dié kwartaal in alle bedrywe afgeneem, maar landbou het die kleinste verlies getoon met 'n afname van slegs 7,6%. Dit is teenoor 10,8% in die formele sektor, 21,9% in die informele sektor, en 23,6% in private huishoudings. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met die landbou-ekonoom Kobus Laubscher hieroor gepraat...
Sien PODCAST aan die einde van die bladsy
Hy meen die werklikheid van Stats SA se arbeidsmagpeiling wat die land nou in die gesig staar, is die naskok van die Covid-19-pandemie. Slegte nuus is dat dit nog slegter met die land in dié verband kan gaan.
Volgens Laubscher het landbou werksgeleenthede verloor, maar die verlies was die minste van al die bedrywe. Dit moet in ag geneem word dat baie van die werksgeleenthede wat in die eerste gedeelte van die kwartaal geskep is, seisoenaal was en alle hoop is nou dat dit kan voortduur.
Daar moet egter nie té veel staatgemaak word op indiensname op primêre vlak nie. "Daar sal dalk ook verdere uitskud kom." Hoop moet nou gevestig word op meer werkskepping in die waardekettings, soos wat mense meer eet. Hy sê hy is in dié verband vol moed, want in die pandemie-tydperk het die landboubedryf bewys sy waardekettings is werksaam.
As die kwessie nugter beskou word, is daar 'n moontlikheid dat daar baie werkgeleenthede geskep kan word in die landboubedryf en sodoende kan dié bedryf 'n ander bydrae lewer tot die land se ekonomiese heropbou-proses.
Hy sê werknemers moet daarmee saam ook seker maak dat die dienste wat hulle lewer van goeie gehalte is, en meer produktiwiteit moet aan die orde van die dag gelê word. Sodoende gaan sakeondernemings staande bly om weer te kan groei, want ekonomiese groei gaan werksgeleenthede skep.
Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, slegs op die Agri-Uur. Om weer na dié insetsels te luister gaan na http://www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en die Agri-Hour. Skakel ook weeksdae in om 11:00 en 13:30 vir jou landbounuusbulletins, slegs op OFM.
OFM-nuus