Agriculture
Landbounuus-podcast: Mans tussen 50 en 71 grootste teikengroep in plaasmoorde─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:15 Fri, 13 Sep 2019

Die polisie se nasionale misdaadstatistiek vir die 2018/19-boekjaar toon dat mans tussen die ouderdom van 50 en 71 die grootste teikengroep is in moorde op plase.
Daarmee saam word hulle in die meerderheid van dié voorvalle met vuurwapens aangeval. Die Transvaalse Landbou-unie, TLU SA, se adjunk-hoofbestuurder, Chris van Zyl, sê in die algemeen is daar 'n aanduiding dat die landbougemeenskap oor die algemeen in die proses is om te verouder. Die polisie se moordsyfer dui daarop dat 47 plaasmoorde in 41 voorvalle aangemeld is. Van Zyl sê volgens dié organisasie se opname van voorvalle, wat sedert 1990 opgedateer word, is 48 moorde in 357 voorvalle op plase en kleinhoewes volgens die korrekte beskrywing daarvan in die afgelope boekjaar aangeteken. Hy sê hoewel dié opname 'n geleidelike toename sedert 2011 in dié tipe voorvalle toon, het dit verlede jaar begin afneem. Dit is egter kommerwekkend dat volgens dié organisasie se opname reeds 41 mense sedert Augustus vanjaar op plase en kleinhoewes in die land vermoor is.
'n Stoetteler van die Thabazimbi-distrik in Limpopo het onlangs 'n Suid-Afrikaanse rekord opgestel toe hy 'n wit Brahman-koei en haar bulkalf op 'n veiling teen 'n rekordprys gekoop het. Lourens en Irma du Plessis van die maatskappy Louma-boerdery, wat die Nedibest Brahman-stoetery bestuur, het R430 000 op dié genootskap se nasionale veiling betaal. Dié veiling is onlangs op die BKB Afrika Lewendehawe-ekspo by Parys in die Vrystaat gehou. Lourens sê dié koei beskik oor goeie genetiese eienskappe. Hy is daarmee saam hoopvol oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika en vra boere om steeds moed te hou ondanks verskeie uitdagings in die bedryf. Hy sê boere moet hulself vir laagtepunte in die landbousiklus voorberei.
EN
Die regering sal binnekort aankondigings doen oor die herverdeling van meer as twee miljoen hektaar staatsgrond vir landboudoeleindes. Dit is volgens adjunkpresident David Mabuza, wat sê die regering is in die proses om die herstel van landbougrond te bespoedig en grond aan opkomende boere te herverdeel. Met die oog daarop word grond in staatsbesit in ag geneem asook die opstel van kwalifiserende kriteria vir begunstigdes. Volgens Mabusa moet grond aan mense versprei word sodat hulle daarop kan produseer. Hy sê aankondigings oor herverdeling met die nodige ondersteuning van die regering sal binnekort gedoen word. Daar was 278 stukke grond ter sprake, wat in totaal byna 2,9 miljoen hektaar beloop. Voorkeur gaan aan jongmense en vroue gegee word wat die landboubedryf wil betree. Hulle sal ondersteuning kry om seker te maak hulle is geslaagd en dat kosproduksie in die land bevorder word.
OFM-nuus