Local News
Goeie wense stroom in vir die pasgetroude Bok van Blerk en sy Hanna─── 17:34 Mon, 31 Mar 2014
Johannesburg - Gelukwensings stroom in op sosiale netwerke vir Bok van Blerk, een van Afrikaanse musiek se goue seuns, en die aktrise, Hanna Grobler, wat die naweek stilletjies in Hoedspruit in Limpopo die knoop deurgehaak het.
Die paartjie het daarin geslaag om hul planne 'n geheim te hou tot en met die groot dag. Hanna het dit egter op Twitter verklap en met trots aangekondig dat sy nou amptelik mev. Pepler heet. Bok se doopnaam is Louis Andreas Pepler.
Maroela Media berig een van die uitgesoekte gaste wat die Gautengse-egpaar se troudag bygewoon het, sê dit was ? groot geheim om die afgelope ses maande stil te hou. Volgens die bron was daar geen media of fotograwe op die troue nie.
Hanna het die geheim op Twitter uitgelap. Die sanger, Steve Hofmeyr het die pasgetroudes op Twitter net soveel geluk toegewens as wat hy en sy Janine van der Vyver het.
Dunay Nortjé, Ricus Nel en Karlien van Jaarsveld het ook die paartjie op Twitter gelukgewens. Intussen stroom gelukwensings uit alle oorde vir die pasgetroudes op Facebook en Twitter in. - Maroela Media