Central SA
Jongste NK-voorvalle van geweld ‘spits van ysberg’─── 10:46 Tue, 13 Aug 2019

Die nuutste voorvalle van geweld waarin twee minderjarige kinders in Kakamas en Upington in die Noord-Kaap onderskeidelik hulle lewens verloor het, is slegs die spits van die ysberg.
Dit is volgens die ‘Not in my name’ en ‘Nou het sy my naam’ beweging wat teen geweld teen vroue en kinders staan, tesame met ‘Dare to care’ en die nuutgestigte beweging vir Suid-Afrikaanse vroue, wat terugveg teen geweld.
Esmeralda McKay, woordvoerder, sê die samelewing is siek en het sy moraal verloor, aangesien geweld teen vroue en kinders steeds voortduur ondanks die regering en nie-regeringsdepartemente se bewusmakingspogings. McKay sê die jongste voorvalle is ‘n duidelike teken van totale disrespek vir vroue en kinders en dat dit tyd geword het dat die owerhede begin om daadwerklik teen sodanige booswigte op te tree. Volgens dié beweging sal gemeenskap-integrasie en samehorigheid verseker dat geen vrou of kind in ‘n demokratiese Suid-Afrika onveilig en bedreig voel nie.
Sy sê die gemeenskap se traagheid om sosiale kwessies aan te spreek behoort ook tot ‘n einde te kom. McKay verduidelik dat dit blyk dat inwoners hulle nie wil inmeng by gesinsgeweld en ander vorme van mishandeling nie, maar dat mense eerder daaroor praat wanneer die probleem op hulle voorstoep sit. ‘n Dringende beroep is gedoen op die plaaslike gemeenskap om weg te doen met hulle stilswye en om op te staan teen enige vorm van geweld en mishandeling.
OFM-nuus/Roderick Titus