On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Vermoorde ds. Liezel de Jager se man dood in aanhouding aangetref

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:12 Mon, 15 Apr 2024

Vermoorde ds. Liezel de Jager se man dood in aanhouding aangetref  | News Article
Werner de Jager. Foto: Citizen

“Hy is egter vandag dood in aanhouding aangetref.”

Die man wat daarvan verdink word dat hy sy predikantvrou aan die KwaZulu-Natalse suidkus vermoor het, is dood in aanhouding aangetref.

Sowat twee jaar ná die geliefde ds. Liezel de Jager se raaiselagtige moord is haar man, Werner, in hegtenis geneem en van haar moord aangekla.

Hy is egter vandag dood aangetref. Liezel is op 13 Oktober 2021 vermoor. Werner het glo sy eie lewe geneem, berig Huisgenoot.

‘In die pastorie se oprit vermoor’

Liezel, wat predikant was van die NG Gemeente Suidkus, is in die pastorie se oprit vermoor. Sy is verwurg en haar keel afgesny.

Werner het destyds beweer hy het op sy vrou afgekom en toe die veiligheidsmaatskappy laat weet. Hy is in November in Bloemfontein in hegtenis geneem waarna hy in die Westville-tronk aangehou is.

Werner de Jager tydens sy hofverskyning in Februarie. Foto verskaf

Nadat hy op 5 Februarie om borgtog aansoek gedoen het, is dit op 22 Februarie van die hand gewys. Hy was sedertdien nog nie weer in die hof nie omdat sy regspan onttrek het en hy om regshulp moes aansoek doen. Sy volgende hofverskyning sou op 10 Mei gewees het.

In hierdie tyd het dit ook aan die lig gekom dat Werner verantwoordelik was vir nog twee mense se dood. Berniece Eales (84) en haar skoondogter Linda Eales (54) van Kempton Park is op slag dood in ’n ongeluk op 15 April verlede jaar naby die Koppies-afrit op die N1 in die Vrystaat.

Werner het met sy Honda van agter vasgery in die Fortuner waarin die vroue onderweg was. Hy het na bewering gejaag. Nog drie mense is beseer.

Die burgerregteorganisasie Action Society neem met gemengde gevoelens kennis van Werner de dood. “Ons betuig ons medelye met Liezel se jong dogters, wat nou albei ouers verloor het, en ons bid vir krag vir haar ouers, Henk en Salomé, wat hul voogde is sedert Liezel se dood,” sê Juanita du Preez, Action Society se woordvoerder.

“Ons sal voortgaan om geregtigheid vir Liezel te soek. Ons is dit aan haar dogters, familie en vriende verskuldig om toe te sien dat die saak deurgevoer word en die antwoorde en geregtigheid gekry word wat Liezel verdien,” sê Du Preez.

REGSTELLING: Werner is glo dood in aanhouding aangetref, nie in sy tronksel nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.